Vryheid en spraak

Moet nou liewer nie vra hoe ek by die video uitgekom het nie, maar ek beland onlangs in ‘n gesprek in die YouTube kommentaar, en kom daar ‘n interessante idee teë:

Hier in Australie word geloof beskou as iets om voor skaam te wees en meeste gelowige mense (wat in die minderheid is) steek dit weg en praat nie daaroor nie. Jy, wat jouself as ‘n Ateis beskou sal van die aspek hou.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, ek is ten gunste daarvan dat mense praat oor hulle oortuigings. Ek is ten gunste daarvan dat die staat mense toelaat om te doen wat hulle wil solank hulle niemand anders skade aandoen nie.

Ek is ten gunste van vryheid van spraak.  Ek is ten gunste daarvan dat ons mekaar se idees mag ondersoek, bevraagteken en selfs aanval.  Om ‘n idee met ‘n idee aan te val is die kern van vryheid van spraak. Lees meer Vryheid en spraak

Om te maak of jy glo

In retrospek voel ek ‘n versoeking om te dink dat ek al daardie jare in die kerk bloot gemaak het of ek glo.  Ek dink nie dit is waar nie.  Miskien was ek nie heeltemal gemaklik met die idees nie, maar daar was ‘n opregte oortuiging dat dit “korrek” was om ‘n Christen te wees.  Dit was nie die geval dat ek vermoed het dit is alles onwaar nie.  Ek kon dit nie verstaan nie, en na ‘n paar mislukte pogings om dit wel te verstaan het ek begin stilbly om myself die verleentheid te spaar.

Dit is anders wanneer jy eers mooi daaroor gedink het.  Iemand wat opreg oor godsdiens dink sal óf genoeg rede vind om te glo, of min genoeg om te weet hy glo nié.  Ek dink nie ek het nodig om te verduidelik aan watter kant van die lyn ek is nie.  Nou is daar net een eerlike ding wat ek kan doen.  Hier praat ek.  Ek kan nie anders nie. Lees meer Om te maak of jy glo

‘n Verligting en ‘n Verantwoordelikheid

As iemand my jonger self sou vra – en niemand het ooit nie – of ek dink homoseksualiteit is aanvaarbaar, sou ek ‘n vae anti-gay stans ingeneem het op grond van my geloof.  Ek het egter hierdie soort situasie vermy omdat ek nie ‘n rede kon gee nie.  Ek sou nie probeer sê die Bybel verbied dit nie, want ek het goed geweet dat ek nie ‘n enkele opvolgvraag sou kon antwoord nie.  Nee, ons stenig nie mense nie.  Nee, ons hou nie slawe nie.  Nee, menstuerende vrouens is nie onrein nie. Lees meer ‘n Verligting en ‘n Verantwoordelikheid

Seks en die Bybel

Die sogenaamde “gay-debat” by die NG-Kerk se sinode moedig mense aan om oor moraliteit en seksualiteit te dink, en dit het ook daardie effek op my.  Tinus van Zyl skryf in die Kerkbode oor wat presies dit is wat ‘n daad sonde maak.  Hy skryf dat seks binne die huwelik “sonde kan wees – as ‘n man sy vrou verkrag”.

Dié gedagte krap aan my.  Watter van die gebooie verbreek die man dan?  ‘n Vrou moet dan onderdanig wees.  ‘n Vrou gaan dan van een meester na ‘n ander wanneer sy uit haar pa se huis na haar man sin toe trek.  ‘n Vrou is tog skuldig aan haar eie verkragting as sy nie hard genoeg om hulp roep nie.

Dit is nie genoeg vir ‘n vrou om vir ‘n man “nee” te sê nie.  Sy moet seker maak iemand ander hoor haar, anders is sy net so skuldig soos hy.  En hy word slegs gestraf as sy reeds getroud is.  ‘n Man wat ‘n ongetroude vrou verkrag moet met haar trou en kan nie van haar skei nie. Lees meer Seks en die Bybel

‘n Mitiese Jesus?

Ek gesels so ‘n rukkie terug met ‘n vriend van my en vertel hom oor Richard Carrier se werk, spesifiek sy boek On the Historicity of Jesus, wat ek toe onlangs klaargelees het.  Carrier is ‘n antieke historikus wat na sy doktorsgraad van crowdfunding gebruik gemaak het om oor navorsingsmetodes en die geskiedenis van die begin van die Christengeloof te skryf.

Sy ondersoek van die bewyse vir ‘n historiese Jesus is ‘n fassinerende blik op ‘n storie wat ‘n mens maklik dink jy reeds ken.  Ek vertel vir my vriend van die mitiese Jesus wat aan sy volgelinge verskyn as ‘n visioen, oor hulle boodskap aan mekaar dat die redding gebeur het en al wat hulle moet doen is om dit te glo.  Ek vertel hom hoe skraal die bewyse is, hoe min feite daar is.  Ek vertel hom oor Paulus se briewe en die manier hoe hy Jesus beskryf.  En die evangelies, die datums, die aannames.

“Hoekom is jy so opgewonde?” vra hy my. Lees meer ‘n Mitiese Jesus?

Oor waarneming en logika

“God is nêrens waarneembaar nie” het ek geskryf en Udo antwoord:

Ek neem aan dat Apostaat bedoel dat God nêrens empiries waarneembaar is nie. Ja, God is nie ʼn fisiese entiteit wat met die sintuie waargeneem of deur die wetenskaplike metodologie ondersoek kan word nie. My oortuiging dat God bestaan en wat my in staat stel om Hom ook te beleef, is egter nie gebaseer of afhanklik van empiriese feite nie. Die vorming van my oortuiging dat God bestaan lê op dieselfde vlak as my oortuiging van estetiese, morele en logiese waarhede en wat met empiriese verifiëring niks te doen het nie.

Hier verskil ek met Udo: Estetiese, morele en logiese waarhede het baie te doen met empirise verifiëring. Wat ons weet oor mekaar en oor die wêreld is die resultaat van waarneming en eksperimentasie.  Ons neem mense waar sodat ons kan bepaal of ons hulle kan vertrou.  Ons bestudeer die wêreld en leer hoe goed in mekaar steek.  Ons pas toe wat ons geleer het en vind uit of ons reg was oor wat ons gedink het.  Ons pas ons idees van logika aan wanneer ons nuwe inligting teëkom.

Ja, logika gebeur in jou verstand, maar dit beteken nie dit het niks te doen met wat jy kan waarneem nie. Lees meer Oor waarneming en logika

Om te dink jy weet

Na ek Sean Carroll se video “God is not a good theory” op Facebook gedeel het, het Udo van AntWoord ‘n stuk gepubliseer waarin hy sê dat die rede wat iemand het om iets te glo maak nie saak as die geloof waar is nie.  In sy eie woorde:

ʼn Mens noem dit ʼn oorsprongsvergissing (the genetic fallacy). Veronderstel my kamer is klankdig en die gordyne toegetrek. Ek kan die oortuiging hê dat dit buite reën, al het ek absoluut geen rede vir waarom die stelling “Dit reën buite” sou ooreenstem met wat werklik die geval is nie, en tog kan dit steeds die geval wees dat dit buite reën. Of ek kan tot die oortuiging kom dat dit buite reën omdat die koekoekhorlosie teen my kamermuur twaalfuur slaan, en ook in hierdie geval kan dit die geval wees dat dit buite reën. Die gronde vir my oortuiging dat dit buite reën is dus nie rasioneel nie, maar sulke nie-rasionaliteit in hoe my oortuiging gevorm het, maak die werklikheid waarop die oortuiging dui (dat dit buite reën) nie opsigself vals nie.

Ek stem natuurlik nie saam met Udo nie.  Ek het nooit beweer dat ‘n irrasionele rede vir ‘n oortuiging beteken dat dit vals is nie.  My standpunt is dat jy nie iets weet as jy ‘n foutiewe epistemologie gebruik om daarby uit te kom nie.

Lees meer Om te dink jy weet