Onbeskryflik Groot

Die heelal is groot.  Weet jy hoe groot die heelal is?  Die waarneembare heelal is 91 miljard ligjare wyd.  Dit is moeilik om te visualiseer, maar The Scale of the Universe deur Cary en Micheal Huang help daarmee.

Kan dit moontlik wees dat daar ‘n god is wat buite dit alles staan?  Ja.  Dit is ‘n moontlikheid.  Dit is iets wat ons nie huidiglik kan uitvind nie, en dit lyk ook asof ons nooit meer van die heelal te sien sal kry as daardie 91 miljard ligjare nie, so nou spekuleer ek maar. Lees meer Onbeskryflik Groot

Vervloek

Ek vind dit nou verbasend, maar die sondeval het nie ‘n groot rol gespeel in my verhouding met die Christen-geloof nie.  Dit was agtergrond, ‘n dramatiese storie wat die res van die teks aan die gang kry.  Ek het my nie daaraan gesteur nie, want dit was duidelik ‘n mite sonder veel historiese waarheid.  Dis mos nog ‘n Bybelstorie wat bedoel is om ons te leer om gehoorsaam te wees, maak nie saak hóé nuuskierig ons is nie.  Wat is die nut daarvan om dit van nader te beskou? Lees meer Vervloek

Welgeskape

In die begin het ek gedink die Bybelse skeppingsverhaal is bloot ‘n bietjie onprakties.  Byvoorbeeld, hoe kan lig bestaan voor die son?  Die idee dat ‘n hele skepping ses dae sou neem was só duidelik ‘n figuurlike beskrywing dat ek skaars aandag gegee het aan dié (veel groter) illogika.  Ek het geweet die dinosourusse het miljoene jare gelede geleef, en dat mense toe nog nie bestaan het nie.  Die Bybel is ook vol stories wat ons allerhande goed moet leer, so hoekom sal so ‘n blatante mite letterlik bedoel word? Lees meer Welgeskape

‘n Gebore Christen

Christenskap was nie ‘n keuse vir my nie.  Die kerk was deel van die lewe vir solank as wat ek kan onthou, en in my jonger dae het dit nooit by my opgekom om my teë te sit nie.

Toe ek ‘n kind was het ek soos ‘n kind geglo.  Ek het gehou van kerk toe gaan.  My ouers was nie vreeslik sosiaal nie, en die kerk was ‘n geleentheid om by ander mense te wees.  Die grootmense sou gedurig eindeloos vergader, en dan kon ek en die ander kinders lekker speel in die kerk: onder die banke, in die saal, agter die klein verhogie.  Kanseltrappies op – genade, dis ‘n groot Bybel dié – en as ek op my tone staan kan ek amper vir die leë banke preek. Lees meer ‘n Gebore Christen

Ek glo nie

Dit was ‘n verligting toe ek dit eindelik erken.  Dit het gevoel soos daardie oomblik wat jy besef dat die persoon van wie jy hou, ook vir jou gevoelens het.  Dit was nie op daardie oomblik asof ek ‘n las ontsnap het nie.  Wat ek gevoel het was vreugde en opwinding oor al die dinge was skielik moontlik was.

Ek was verlig oor ek kon ophou dubbeldink.  Ek was lankal moeg vir die dramateks wat ek gedurig moes uitvoer: Ek ken die Bybel en ek het genoeg verstand om argumente aanmekaar te slaan.  My mikpunt was altyd om nét genoeg deel te neem dat die aandag nie by my talm nie.

Dit is steeds nie my bedoeling om aandag te trek nie.  Ek skryf hier anoniem omdat ek nie gereed is om my familie se harte te breek nie.  Tog kan ek nie ontken dat dit ‘n onderwerp is waaroor ek gereeld dink en lees nie, so hierdie blog se doel is tans om ateïsme en afvalligheid te bespreek.  Ek skryf in Afrikaans omdat ek wens daar was meer inligting beskikbaar oor Afrikaners se geloofstryd, hulle twyfel, en hulle apostase.

So, ek is beide ‘n ateïs en ‘n apostaat, maar dit is die apostase waaroor ek dink.  Ek voel die skeiding tussen my en die kerk, tussen my en Christene, en dan ek dink: “Kom kyk hoe lyk dinge van hierdie kant af!”  Dit hou vir my ‘n vreemde fasinasie in dat party mense opreg glo, party mense nie glo nie maar steeds godsdienstig optree, en ‘n hele klomp ander mense vaagweg sal aanvoer dat God bestaan en dat almal maar moet probeer om goed op te tree.

Laat gerus vir my weet wat julle dink oor wat ek te sê het.  Meningsverskille is te verwagte, maar ek dink dit kan na produktiewe gesprekke lei.

Avatar fb