‘n Gebore Christen

Christenskap was nie ‘n keuse vir my nie.  Die kerk was deel van die lewe vir solank as wat ek kan onthou, en in my jonger dae het dit nooit by my opgekom om my teë te sit nie.

Toe ek ‘n kind was het ek soos ‘n kind geglo.  Ek het gehou van kerk toe gaan.  My ouers was nie vreeslik sosiaal nie, en die kerk was ‘n geleentheid om by ander mense te wees.  Die grootmense sou gedurig eindeloos vergader, en dan kon ek en die ander kinders lekker speel in die kerk: onder die banke, in die saal, agter die klein verhogie.  Kanseltrappies op – genade, dis ‘n groot Bybel dié – en as ek op my tone staan kan ek amper vir die leë banke preek.

Liewe Jesus en die kindertjies. Soetsappige onsin.Na die nagmaal was daar altyd vele klein handjies wat help om die glasies bymekaar te maak.  Die nagmaaldiens was langer as ‘n gewone diens en dan was daar nog ‘n kerkraadsvergadering ook, so die al die kinders was maar honger terwyl ons wag.  Die oorskiet nagmaalbrood is vervaard verslind.  Teen dié tyd is die blokkies korsielose witbrood lankal droog, maar as jy gelukkig is vind jy ‘n paar wynglasies wat nie heeltemal leeg is nie.

Dis die NG Kerk, so niemand is bygelowig genoeg om te dink ons eet enigiets anders as gewone witbrood nie.  My indruk was altyd dat die kerk effe verleë is oor die ritueel.  Daar was ‘n groot tafel voor in die kerk, en vir  nagmaal is dit altyd ryklik gedek.  Almal lyk vreeslik ernstig, hulle maak hulle oë toe wanneer hulle die brood kou.

Die sinode besluit dat dooplidmate die nagmaal mag gebruik.  My ouers vra of ek “gereed” is.  “Ja”, sê ek.  Ek wonder wat dit beteken om gereed te wees, maar ek vra nie.  As ek sou vra sou hulle dalk besluit ek is nie gereed nie, en dan gaan daar weer eindeloos gepraat word.  Soos altyd soek ek die pad uit.

Ek gebruik die nagmaal, en buig my hoof, en bid “Ek weet nie wat om te sê nie, Here.  Dankie?”

Ek hou van die ritueel self.  Ek hou van die idee dat ons almal saam ‘n stelling maak deur middel van ‘n formele aksie.  Ek hou daarvan dat almal weet wat van hulle verwag word.  Die formulier sit gemaklik in my ore omdat ek dit al soveel keer gehoor het, maar daar is altyd ‘n gevoel van teleurstelling:  “Neem, eet, dit is my liggaam” word met dieselfde stem gesê as “Enigiemand wat oorgeslaan is met die brood, dui dit asseblief met die hand aan”.  Dan is daar die groot beker, beskikbaar vir diegene wat glo die wyn werk nie in klein glasies nie.  Dit was duidelik ‘n kompromis en as sulks het dit altyd ongemaklik by my gesit.  Gewoonlik is daar net een ou oom wat vir die beker sou vra.  ‘n Diaken bring dit, hy sluk, en die diaken vee die rand van die beker met ‘n handvol servette, terwyl hy rondkyk vir ander mense wat dalk uit die beker wil drink.

Op hierdie stadium, steeds op skool, is dit die ongemaklike, menslike interaksies wat my pla.  Voor slaaptyd lees ek gretig die Bybel, besig om die hele boek deur te lees.  Ek hou van die stories, maar die geslagsregisters lyk vir my na ‘n mors van Bybelpapier.  Handelinge is ‘n teleurstelling.  Hoe kan dit wees dat die apostels kon verstaan dat hulle aan die begin van ‘n ding staan en nie eers probeer om behoorlike rekords te hou nie?  Hoe moeilik sou dit dan gewees het om minder gate in die storie te hê?

Op skool leer ons ook oor die Bybel.  Daar kom ek nuwe woorde teë: Palestina, Kerkvaders, Kruistogte.  Daar is ‘n gaping tussen die ou dae toe Christene dinge gedóén het, en die hede, waar ons praat oor die pannekoekstalletjie by die basaar.

Ek het soos ‘n kind geglo.  Dit beteken dat ek maklik kon aaneem dat die goed wat nie vir my sin maak nie, wel duidelik is vir mense wat al langer daaroor dink.  Om te glo beteken dat jy iets as waar aanvaar sonder dat jy dit weet.  Om soos ‘n kind te glo beteken dat jy iets as waar aanvaar omdat jy vertrou dat ‘n gesagsfiguur wel weet.

In my geval het dit geleidelik duidelik geword dat niemand regtig wéét nie.  Die Bybel weerspreek homself dikwels, die logika loop al in die rondte, en die kerk tree min of meer nes die res van die mensdom op.   Tog het ek probeer om God te ervaar.  Ek het gesoek na die warm gevoel in my hart, of die wyse stem in my kop, of tekens vol betekenis in my lewe.  Ek het vergeefs gesoek, maar dit het baie jare geneem voordat ek kon aanvaar dat ek alleen is in my verstand.

Avatar fb
Apostaat
Advertisements

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

5 thoughts on “‘n Gebore Christen”

  1. Jy praat so van die oorskiet nagmaal broot. Ons in die kerk beskoud dit net as ‘n teken. Die Roomse Katolieke kerk beskou dit as “transubstantiation” waar die Eucrist of stukkie broot werklik fisies die ligaam en die wyn werklik die bloed is. Nie ‘n simbool nie, en daarom moet die priester die oorskiet broot opeet en oorskiet wyn opdrink omdat as die wyn sou mors, dit Jesus se bloed is wat mors. In der waarheid kruisig hulle Jesus elke sondag oor en oor.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s