Welgeskape

In die begin het ek gedink die Bybelse skeppingsverhaal is bloot ‘n bietjie onprakties.  Byvoorbeeld, hoe kan lig bestaan voor die son?  Die idee dat ‘n hele skepping ses dae sou neem was só duidelik ‘n figuurlike beskrywing dat ek skaars aandag gegee het aan dié (veel groter) illogika.  Ek het geweet die dinosourusse het miljoene jare gelede geleef, en dat mense toe nog nie bestaan het nie.  Die Bybel is ook vol stories wat ons allerhande goed moet leer, so hoekom sal so ‘n blatante mite letterlik bedoel word?

Mettertyd begryp ek evolusie, hoe die planete ontstaan het, waar mense as ‘n spesie inpas in die lewensboom.  Dit was alles vir my mooi.  My pa het graag gesels oor die wetenskap, en gedurig ingewikkelde konsepte vir my verduidelik.  Danksy uitstappies en vakansies in natuurreservate het ek ‘n liefde vir die natuur ontwikkel en gretig enige beskikbare boek oor diere gelees.  Onthou jy die televisieprogram 50/50?  Elke Sondagaand het ons gekyk.  Die kenners en wetenskaplikes het altyd verduidelik.  Sulke regte verduidelikings wat jou brein laat tingel soos wat jy voel iets maak sin.

Deesdae is dit natuurlik baie maklik om na kenners en wetenskaplikes te luister en jou brein heeldag te laat tingel.  (My huidige gunsteling is Crash Course Astronomy.  Ek beveel dit ten sterkste aan.)

Die ding is, as jou belangstellings beide religie en die natuurwetenskappe insluit gooi YouTube kort voor lank Amerikaanse kreasioniste jou kant toe.  Hulle praat in die oordrywe buddy-stemtoon van Amerikaanse predikante, en wat hulle sê is soms onnosel genoeg dat ek vermoed hulle troll ons almal.  Die hele storie het vir my ‘n vreemde fasinasie, want dit is moeilik vir my om te verstaan hoe enigiemand wetenskaplike feite kan ontken.  Geen van my onderwysers het ooit Genesis klas toe gebring nie, en sover soos ek kon uitmaak het almal op dieselfde manier die probleem hanteer: as jy oor wetenskap praat, bly jy by wetenskap, en as jy oor godsdiens praat, bly jy by die Bybel.

Toe ek op sewenien kategeseklasse loop ter voorbereiding vir my geloofsbelydenis, het ek een dag dié reël oortree en ‘n verrassende les geleer.  Die skepping was ter sprake in die klas, en ek het netjies vir die dominee verduidelik hoe ek reken die skepping gelees moet word: dat dit metafories gestel is in die Bybel.  Wanneer God vir Adam uit stof bou beteken dit dat hy dit wat reeds daar is gebruik.  Die fisiese proses wat plaasgevind het was evolusie, ‘n proses wat organismes wat reeds daar is “gebruik” om nuwe spesies te maak. God is natuurlik verantwoordelik vir presies hoe dit gebeur, want ons is dan nou hier om te bewys hoe aspris dit alles is.

Ek het regtig probeer deelneem aan die gesprek, en was bly om iets te hê om te sê.  My toespraak is effe kil ontvang, maar die klas was gewoonlik redelik gevrek en ek het nie veel daaroor gedink nie.  Later, máánde later, sê my pa vir my dat die dominee my glo oor die kole wou haal oor dié uitlating.  Dit het nooit vantevore by my opgekom dat ons kreasioniste was nie.

Daardie dag het ‘n stukkie van die band tussen my en die NG Kerk ontrafel.  Dit was nie eers net die absurde implikasie dat ek veronderstel was om die ses-dae-storie as letterlik te aanvaar nie.  Dit was die oënskynlike ruggraatloosheid daarvan dat ek nie in die klas kon reggesê word nie.  Ek weet nie wat die rede was daarvoor dat die dominee stilgebly het toe ek daardie dag so vreeslik laster nie, maar my raaiskoot is dat leeraars aangeraai word om nie betrokke te raak in ‘n debat oor die skepping nie.

Enige predikante wat kan insig gee hieroor se kommentaar sal waardeer word.  Die NG Kerk se webblad sê ongelukkig vir my dit:

Hoe dit ookal sy, ek het die Bybelse skepping lank voor die res van die Bybel laat vaar.  Ek sou nog leer dat die Bybel miskien nie so welgeskape is soos die heelal nie, en totaal kan ontrafel as jy hard genoeg probeer om dit te verstaan.

Avatar fb

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

2 gedagtes oor “Welgeskape”

  1. Ek het dit baie soortgelyk ervaar, naamlik dat in my kindertyd Christene meer met wetenskap kon saamleef as vandag, dat verhale van die Bybel as simbolies gesien kon word. Maar deesdae moet mens kies.

    Vir my het die moet kies ook eerder ontstaan as gevolg van teenstrydighede in die Christelike verhaal as oor Wetenskap. Sommige teenstrydighede is selfs in Bybelkunde (wat ek as HOD student moes neem) aan ons uitgewys.

    En ek dink vir die kerk word dinge op ‘n spits gedryf deur finansiële en magsoorwegings.
    Dominees weet dat te veel dink oor teenstrydighede en wetenskap op die ou end tot afvalligheid lei soos wat jy ook baie duidelik hier dokumenteer. En dis ‘n duidelike bedreiging vir hulle inkomstes en magsposisies. Daarom wil hulle eerder net voortgaan op julle afdraande pad met mense wat soos kindertjies glo.

    My dominee se reaksie destyds op my ongeloof was vreesagtig – ek het jammer vir hom gevoel. Vandag is dominees ook seker meer voorbereid vir daardie gesprek.

    Liked by 1 person

  2. Terug pieng: Vervloek – Apostaat

Lewer kommentaar