Vervloek

Ek vind dit nou verbasend, maar die sondeval het nie ‘n groot rol gespeel in my verhouding met die Christen-geloof nie.  Dit was agtergrond, ‘n dramatiese storie wat die res van die teks aan die gang kry.  Ek het my nie daaraan gesteur nie, want dit was duidelik ‘n mite sonder veel historiese waarheid.  Dis mos nog ‘n Bybelstorie wat bedoel is om ons te leer om gehoorsaam te wees, maak nie saak hóé nuuskierig ons is nie.  Wat is die nut daarvan om dit van nader te beskou?

Noudat ek myself toestemming gegee het om dinge te bevraagteken, is die sondeval bo aan my lys.  Toe ek begin vermoed dat ek dalk nie werklik in God glo nie het die gedagte gewoonlik gepaard gegaan met ‘n frustrasie oor die vlak van skudgevoel wat ek ronddra.  “Ek moet in my spoor trap, en waak teen die sonde”, het ek gedink, maar dit is nie in my hande om die sonde te vermy nie.  Die kerk het dit baie duidelik gemaak dat die mens ‘n sondige natuur het.  Maak nie saak wát ons doen nie, dit is slegs deur God se genade dat ons gered kan word.

Later sal ek meer skryf oor die idee van redding, maar vandag vra ek: Hoekom het die mens ‘n sondige natuur?

Een onverwagse gevolg van apostase is dat die Bybel skielik vir jou ‘n heel anderster boek is, so ‘n paar goed val my  nou op wat ek dalk nie vantevore raakgesien het nie. Volgens Genesis 3 word “die mens en sy vrou” deur God belet om die vrugte van die boom van alle kennis te eet.  Een kort gesprek met ‘n slang later, en die vrou eet die vrug, gee dit vir haar man, en hy eet ook.

God se reaksie is om hulle te vervloek.  Mense sal voortaan swaarkry, hard moet werk en terugkeer na die aarde toe wanneer hulle sterf.  Die hiernamaals word nie genoem nie. Die dood is oënskynlik die einde van die individu.

Ons is nou almal vervloek weens hierdie oersonde.  Daar is niks om daaromtrent te doen nie, want dit is God se woord.  Hy kan tog nie uitsonderings maak nie… of kan hy?

Vroeër het God vir Adam gesê: “maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie.  Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”

Die vonnis vir die oortreding is duidelik, maar in plaas daarvan dat Adam dieselfde dag nog sterf, vervloek God die mensdom.  Pyn en swaarkry en uiteindelik die dood, vir al die mense wat nog kom.  En om een of ander rede kan God nie dáároor van plan verander nie.  Dis nou die nuwe reëls.

Eva verstaan wat sy waag wanneer sy die vrug eet.  Sy sê vir die slang dat hulle sal sterf as hulle die vrug eet, maar haar begeerte vir die kennis wat dit kan gee is sterker as haar vrees dat God haar sal doodmaak.  Eva was bereid om te sterf ter wille van kennis, en dit was ‘n goeie waagstuk: God het haar en Adam laat lewe, en die mensdom het die vermoë om krities te dink, om kennis te bou, om dinge te verstaan.  Eva het téén God gekies en gewen.

Dit is vir my aangrypend: die prys wat sy vir die kennis betaal, is swaarkry en pyn gedurende swangerskap en geboorte.  Die rede hoekom mense se voortplanting so baie eis van vrouens is omdat ons babas sulke groot breine het.  So dit is inderdaad die gevolg van ‘n evolusionêre transaksie ter wille van intelligensie dat mense hoë risiko swangerskap en geboortes ervaar.  Moet ons dit as ‘n vloek sien?  Ek dink nie so nie.  Dit is een van die faktore wat toelaat dat mense beter en langer lewens kan hê.  Ons behoort dankbaar te wees teenoor Eva, die denkbeeldige proto-moeder.

Soos ek reeds bespreek het, was dit nooit my geloof dat die skepping in ses dae plaasgevind het nie, en op ‘n soortgelyke basis was Adam en Eva nooit in my begrip historiese individue nie.  Dit is ‘n etiologiese mite, ‘n just-so storie uit die antieke wêreld wat probeer om Antie Stienie en andere soos sy te antwoord wanneer hulle sê: “Ek weet nie hoekom ek so moet suffer nie.”

So, hoekom suffer ons?  Want God het ons mitologiese voorouers vervloek vir hulle nuuskierigheid, in plaas daarvan om hulle dood te maak.  Dit was God se besluit, en hy kon anders besluit het.

Die toneel aan die einde van dié verhaal is amper komies. God maak vir die mense klere, maar vrees dat hulle verder sal moeilikheid maak: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles ken.  As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!”

Dit klink asof God bang is dat mense te veel soos hy kan wees.  Hy stuur gerubs om die boom op te pas, en ook “‘n vlammende swaard wat heen en weer beweeg”.  Maak maar daarvan wat jy wil.

Het hierdie verhaal waarde vir geloofsvrye mense?  Ja, ek dink so.  Die argument dat die Christelike geloof ‘n suiwer morele stelsel is, word ondermyn daardeur, want God hou nie sy woord nie.  Later beweer hy dat ons elkeen ‘n sondige natuur het, en dat daar net een manier is om die verdoemenis te ontsnap.  Het Adam en Eva dan teruggesluip by die engele verby, rondom die geanimeerde swaard, tot by die boom van die lewe?  Hoe anders sou die mens dan skielik in die Nuwe Testament die ewige lewe besit?

Avatar fb
Apostaat

 

 

Advertisements

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

2 thoughts on “Vervloek”

  1. Eva het nie teen God gekies en Hom gewen nie. Die prys wat sy
    betaal het is nie net pyn en swangerskap nie. Die prys is die dood.

    Het jy al die stelling gehoor, “Wanneer begin jy om dood te gaan?” Die antwoord is dat jy begin om dood te gaan die dag as jy gebore is. Daar gaan ‘n aantal biljoen biljoen selle ‘n dag in jou liggaam dood, maar gelukkig is jou liggaam sterk genoeg om die aantal biljoen biljoen selle weer te vervang. Jy kan die agteruitgang / veroudering of besig om dood te gaan eers begin raaksien, die dag wanneer jou liggaam nie kan bybly om nuwe selle te maak teen die tempo waarteen hulle doodgaan nie.

    In die woorde van Psalm 102:25-27, you laid the foundation of the earth: and the heavens are the work of your hands. They shall perish, but you shall endure: yes, all of them shall wax old like a garment. But you are the same, and your years shall have no end.”

    Dit is een van die eienskappe van God dat Hy alleenlik onverganklik is. Ons as mense moet een keer ‘n maand van die boom van die ewige lewe met die 12 verskillende vrugte eet.

    Voor die vloed het hulle meer as 900 jaar geleef, maar na die vloed leef ons nou om en by 120 jaar. Wat eintlik gebeur het is dat die atmosfeer voor die vloed omtrend dubbel was as wat dit nou is. Die hoeveelheid suurstof was ook aansienlik meer. Daar was ook geen radiasie van die son as gevolg van die “canopy” water in die hemel, wat ook tot gevolg gehad het dat daar nie refraksie was tot so mate daar nog nooit ‘n reenboog was nie.

    Asgevolg van die kondisies het mense nie net langer geleef nie, maar was hulle ook baie baie grooter, reuse. Nie net die mense was grooter nie, maar ook die diere. Daar is bewyse van insekte wat so verskriklik groot was dat hulle nie in die atmosfeer van vandag kan leef nie. Omdat insekte nie longe het nie, en suurstof deur hulle vel oppervlak inneem is dit ‘n bepaalende beperkende faktor.

    Hier is so video om jou meer te vertel jong.

    Laastens beweer jy dat God nie sy woord hou nie omdat ons die ewige lewe in die nuwe testament besit. Dit is omdat Jesus as die tweede adam vergelyk word en as ons een met Jesus is, dan het ons deel in die dood en opstanding van Jesus.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s