Onbeskryflik Groot

Die heelal is groot.  Weet jy hoe groot die heelal is?  Die waarneembare heelal is 91 miljard ligjare wyd.  Dit is moeilik om te visualiseer, maar The Scale of the Universe deur Cary en Micheal Huang help daarmee.

Kan dit moontlik wees dat daar ‘n god is wat buite dit alles staan?  Ja.  Dit is ‘n moontlikheid.  Dit is iets wat ons nie huidiglik kan uitvind nie, en dit lyk ook asof ons nooit meer van die heelal te sien sal kry as daardie 91 miljard ligjare nie, so nou spekuleer ek maar.

As só ‘n buitestaander-god bestaan, sou hy belangstel in wat ons doen?  Ons dink graag mense is vreeslik interessant, maar dit is hoofsaaklik oor ons self mense is.  ‘n Wese wat ‘n heelal kan skep sal tog ander prioriteite hê, of hoe?

In my verbeelding lyk ‘n skepper-god so: Hy is ‘n wese wat die reëls vir die fisiese wêreld skryf en implementeer.  Hy kry die spul aan die gang, maar hoef nie daarna te karring met detail nie.  Die hele storie is geprogrammeer sodat sterre en planete vorm.  As daar lewe vorm op ‘n planeet is dit die gevolg van chemie en fisika en wat daardie organismes dink of weet of glo maak geen verskil aan hoe die heelal funksioneer nie.

Die idee dat só ‘n god sal omgee or ons varkvleis eet of Sondag kerk toe gaan, dat hy sal luister, in enige betekenisvolle sin, wanneer ons bid, dat hy ons individueel sal veroordeel vir seks en onreine gedagtes is duidelik absurd.  Die wetenskaplike wette van die heelal verander nie omdat iemand oneerlik is, of sy naaste liefhet, of ‘n os begeer, of watookal nie.  Sal ‘n skeppergod regtig genoeg belangstel in ‘n mens om die reëls wat hy self ingestel het, te breek?  Elke keer as ek sondig, elke keer as ek om vergifnis vra?

Duidelik nie.  Daar is ‘n rede hoekom elke wonderwerk en mirakel op die ou end ‘n illusie is.  Materie gehoorsaam dieselfde reëls, oral en altyd.  Om te dink dat daar ‘n uitsondering sal wees vir mense, gebaseer op ‘n onvolmaakte en arbitrêre morele stelsel is, om die minste te sê, arrogant.  En dan is ons enigste manier om boek te hou ‘n teks wat duidelik uit verskillende bronne kom, dikwels teenstrydige raad gee, en blatante leuens bevat oor alles van die skepping tot die opstanding.  ‘n God wat die heelal geskep het, en ook genoeg belangstel in mense om hulle te veroordeel, sou sy bonatuurlike mag gebruik om vir hulle ‘n meer deeglike kode te gee.

Ten spyte van hoe die Apostoliese Geloofsbelydenis begin, is daar geen rede vir enigiemand om in ‘n álmagtige god te glo nie.  Die Bybel maak dit duidelik dat daar dinge is waaroor God nie beheer het nie.  Die duidelikste voorbeeld is dat elke mens die vemoë het om teen God se wil op te tree.

Die ander groot voorbeeld lê in die hart van die Christen-geloof:  Ons redding.  Volgens die Bybel is daar net een manier hoe ons saligheid kan bereik, en dit is deur die dood en opstanding van Jesus Christus, seun van God, maar ook mens en ook God.  Hoekom is hy die enigste antwoord?  Want God sê so.  Daar is geen ander rede nie.  Dit is God se reëls en hy sê dit is hoe ons gered kan word.  Hy het ons so lief dat hy bereid is om ons te vergewe, maar daar is geen ander manier wat hy dit kan doen nie.  As ons optrede regtig vir hom saak maak kan hy mos enigiets kies as ‘n maatstaf.  En as hy regtig wou kon hy vir ons ‘n kode gee, een wat nie dubbelsinnig of misleidend is nie.  Iets wat ons kan toets.  Hoekom sou hy dan vir ons verstand gee en dan vra dat ons dit tog nie moet gebruik nie.

‘n Verhaal oor ‘n mens wat sterf sodat ander mense kan lewe is heroïes.  ‘n Verhaal oor ‘n god wat ‘n heelal skep wat letterlik vir biljoene jare kan bestaan, maar om een of ander rede gee hy om oor hoe mense op een planeet optree, is kleingesind.  Ons besluite het dalk groot gevolge vir ons planeet, en as sulks moet ons dit ernstig opneem.  Maar vir ‘n ewige wese wat buite ruimtetyd bestaan en letterlik alles uit niks geskep het, hoe kan dit vir hom saak maak wat ek of jy doen in die oogknippie tyd wat ons lewe?

As God die heelal geskep het is hy ver buite ons begrip, en daar is geen rede om ‘n aanmekaargelapte boek te glo en wetenskaplike bewyse te ignoreer nie.  As hy só bestaan het hy geen belang in ons nie.  As hy minder is as dit, mislei hy ons met al die grootpratery oor almagtigheid en eindelose toorn.  Alternatiewelik is daar niemand buite die waarneembare heelal nie, en al wat ons het is ‘n oogknippie op aarde.  In terme van die heelal is dit nie veel nie, maar in menslike terme is dit baie.  Danksy die harde werk van wetenskaplikes wat nie tevrede is daarmee dat daar dinge is wat ons nie verstaan nie, is ons oogknippies langer as ooit vantevore, en die moontlikhede van wat ons met daardie tyd kan doen, eindeloos.

Avatar fb
Apostaat
Advertisements

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

2 thoughts on “Onbeskryflik Groot”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s