My moeder en haar taal

Toe ek uiteindelik vir my ma vertel dat ek nie in God glo nie, is ek amper teleurgesteld dat sy só min reaksie het.  Al wat sy doen, is om onmiddelik te besluit ek het selfmoordneigings.  Sy is nie opgewerk oor ek nou hel toe gaan, of omgekrap dat ek effektief laat blyk ek dink sy is delusional nie.  Sy is nie kwaad dat ek die God wat sy só lief het verwerp nie.

Wat sou die ideaal wees?  Dis nie asof ek ooit gedink het dit sou gebeur nie, maar hoe wonderlik sou dit wees as sy ‘n sug van verligting sou sug en sê: “Ek ook nie eintlik nie, kom ons hou op om so voor te gee.”

Maar miskien is dit omdat sy ‘n glad ander God ken.  Ek weet sy lees die Bybel, maar ek kan nie help om te wonder of sy al ooit in diepte daaroor gedink het nie.  Haar godsdiens is nog altyd ‘n kwessie van aksie, van hierdie projek en daardie uitryk.  Dis sopkombuis en fondsinsameling, nie teologie of kerkleer nie.

As daar enigiets van daardie aard in haar is, steek sy dit goed weg onder “Liewe Jesus” en kinderbediening.  Of is dit net met my wat sy so praat, al is ek lankal al volwasse?  Daaraan twyfel ek, want selfs toe sy tot die gevolgtrekking kom dat ek nou geen hoop meer het nie, noudat ek sê ek glo nie, selfs tóé is dit Liewe Jesus vir wie ek sweerlik moet kwaad wees.

Ek het na haar verlang.  Dit is hoekom ek dit gedoen het.  Elke keer wat sy vir my sê ek moet bid, of sy gaan wir my bid, of haar hele flippen gemeente gaan vir my bid, het dit my laat voel asof sy verder en verder van my af is.  Elke keer wat ek ‘n manier vind om dit half te laat klink asof ek nog kerk toe gaan sonder dat ek regtig lieg, elke keer as ek dink daaraan om haar te bel en dit nie doen nie, want ek wil nie hoor oor die mense by die kerk nie.  My hoop was dat ons weer bymekaar sou uitkom as ek die moed sou hê om eerlik te wees.

Sy sê: “Toe jou pa dood is het ek ook gevoel ek wil nie met Liewe Jesus praat nie.”

Ek sê: “Ek is nie kwaad vir God nie.  Hy is nie weg nie.  Hy was nooit regtig daar nie.  Dit is ómdat ek die Bybel gelees het, nie ten spyte daarvan nie.  Dit is net nie wáár nie.”

Sy sê: “Dis iets wat jy vóél…”

En ek dink nie sy neem my kwalik dat ek iets nie vóél nie.  Maar sy vra nie wat dit is in die Bybel wat my afsit nie.  Sy is beslis bewus van al die onsmaaklikheid, maar los dit alles vaagweg in die Ou Testament.

Ek wil haar vra of die armes by die sopkombuis net so lekker sou eet as Liewe Jesus nie die een was wat vir haar sê om haar medemens te help nie.  En dan kry ek skaam, want dit is nie asof ek nou juis veel doen vir my medemens nie.

Nou maak sy asof niks gebeur het nie.  Sy raai my darem minder aan om oor my probleme te bid, en ek aanvaar dat ek haar nie kan keer as sy vir my wil bid nie.  Voor my bekentenis was ek bang dat dit haar sou seermaak.  Nou wens ek dat ons ‘n regte gesprek kon hê.  Ten minste hoef ek nie meer te swyg of te lieg nie.  Dit is vordering.

Avatar fb
Apostaat
Advertisements

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

6 thoughts on “My moeder en haar taal”

  1. Soos baie van ons mense, is jou ma se moraliteit asook haar sin vir gemeenskap gewortel in haar geloof.

    Toe my skoonpa dood is, het die manier hoe die boere van die omgewing opgetree het, my gewys hoe ‘n sterk positiewe krag die kerk kan wees. Vir my was dit iets moois om te sien, al kan ek self nie meer deel wees daarvan nie.

    Myns insien moet ateïste nie probeer om die kerk te verwoes, as hulle nie iets positief in die plek daarvan kan stel nie.

    Like

  2. Terug pieng: Woedend – Apostaat
  3. Ek stem saam: dit is mooi en goed wanneer ons na mekaar omsien in ‘n gemeenskap. Wat my pla is die aanname dat ‘n mens nie goed kan wees sonder God nie. Dat jy nie jou bure gaan bystaan of liefdadig gaan optree tensy jy ook ‘n sekere geloof bely nie. Moraliteit en empatie is eienskappe van mense, nie net van Christene nie.

    Like

  4. Jou probleem is dat jy in die NG Kerk grootgeword het en nie regtig ‘n begrip vir die Bybel het nie. Die NG Kerk se dienste kan vergelyk word met ‘n motiveeringspraatjie wat met ‘n strikkie vasgemaak is aan ‘n Bybelversie.

    Daar is soveel verskillende gedeeltes wat hulle vermei omdat dit moeilik is of omdat hulle nie regtig meer saam met dit stem nie, dat wanneer dit nou deur een van hulle lede gelees word amper as vreemd beskou kan word.

    Gaan kyk ‘n bietjei wie en wat is die Satanistiese kerk. Jy sal verbaas wees wat hulle dink en wat hulle glo. Dit wat hulle beweer en wat hulle lede glo is niks wat die kerk vir sal laat glo nie. Hulle is 100% ateisties van aard, en die duiwel is maar net hulle gelukbringer (mascot) om die sisteem te beveg en te bevrei.

    Dit is eintlik lagwekkend en hartseer terselfde tyd dat dit wat jy nou as ateis glo en van oortuig is, is presies dieselfde wat die “Church of Satan” glo, nie net in woord nie maar ook in daat.

    Jy is eintlik ‘n Satanis, maar jy weet dit nie eers nie. Die waardes van die Kerk van Satan en hulle geloofsoortuiging is 100% dit wat jy glo.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s