Watter vers het jou laat twyfel?

Ek lees op Patheos Jeremy Myers se stuk  11 Bible Verses That Turn Christians Into Atheists, en dink weer oor die vroeë dae van my Na-Christus era.  Elkeen van Myers se elf verse pla my, maar ek skaam my nou om te sê dat dit my nie gepla het toe ek nog deel van die kerk was nie.

Ek skaam my, want enige ordentlike mens behoort gepla te voel oor die vreeslike goed wat die Bybel sê is God se wil.  Hoe is ek altyd daarby verby?  Kon ek regtig soveel deelneem aan die mob-mentaliteit, daardie kulkuns van die Nazis waar jy weet jy kan nie protesteer nie, en dan maar maniere vind om nie daaroor te dink nie.

Hoe skaam kry ek nou, ek was nie dapper genoeg om iets te sê nie.  Om hoegenaamd aandag te trek het my laat voel soos ‘n mier onder ‘n vergrootglas: nie net sou al die prekery op my gefokus word nie, maar ek sou ook so sigbaar, so blootgestel wees.  Dis nie asof ek enigiets gehad het om te antwoord nie.  Ek het nooit as kind ‘n boek teëgekom wat godsdiens betwyfel nie.

Daar was Moslems, Hindoes en Boeddhiste in ons dorp, maar dit het nie gelyk asof dit van my verwag word om hulle te bekeer nie.  Dit opsig self was dubbeldink: Ek het “geweet” dat Christene veronderstel was om die Woord te verkondig, maar ek was ook bitter dankbaar dat die mense in die kerk só ‘n vrot voorbeeld stel.  Ek wou nie met enigiemand oor geloof praat nie, al het ek ‘n knagende gevoel gehad dat ek veronderstel was om sendingwerk te doen.  Ek het nie verstaan hoekom ons altyd daaroor praat, maar dit nie doen nie.

Ek was beslis nie lus vir ‘n gesprek met een van die omies nie. In my verbeelte sou ek nie weet wat om te sê nie, terwyk die dominee of een van die ouderlinge my vreeslik jammer kry en aanhou praat, maak nie saak wat ek saamstem om hulle te laat stop nie.

Om nou regverdig te wees moet ek ook sê ek weet nie vir ‘n feit dit is wat sou gebeur nie.  Die naaste wat ek daaraan gekom het om uit te vind was oppad na my geloofsbelydenis toe.  Daar was ‘n onderhoud met een van die ouderlinge ter voorbereiding van die groot dag.  Hy het gevra hoe ek weet dat God bestaan en die skepper is ens.  My antwoord was vaagweg dat ek kan sien die natuur is vol skoonheid of iets.

“En natuurlik die Bybel” sê hy.  Vir ‘n oomblik wou ek stry.  Ek het darem geweet die Bybel is nie heeltemal betroubaar nie.  Daar was ‘n voetnota aan die einde van Markus oor hoofstuk 16 vers 9-20, en daar was tog duidelik teenstrydighede en vals historiese bewerings en profesieë wat ook net waar word omdat Lukas allerhande goed opmaak.  Ek het geweet, selfs toe ek sewentien was en nog nie heeldag op die internet kon rondhang nie, dat die Bybel nie al die antwoorde het nie.

Dit alles is in ‘n nanosekonde deur my kop, saam met die wete dat hy my probeer help. Hy het geweet die korrekte antwoord is “die Bybel”.  Dit is wat ek moes antwoord om klaar te maak met die onderhoud, en ek het saamgestem: natuurlik is die Bybel die antwoord.

Ek kon nie in daardie nanosekonde aan iets dink om daaroor te sê nie.  Vir jare daarna het ek steeds nie geweet wat om te sê nie.  Die feit is: sonder die Bybel is daar geen rede om te dink God, as hy bestaan, is die Christen-god nie.

Ek was ‘n lafhaard.  Die feit dat ek nie toegang gehad het tot enige beter idees nie, dien net as gedeeltelike verskoning.  Selfs as tiener was ek bereid om betrokke te raak in argumente deur mense aan te vat oor hulle rassisme.  Die wete dat ek reg is het my dapper gemaak.  Ek was nie bereid om dapper te wees – nie vir óf teen godsdiens nie – omdat ek bewus was dat ek nie genoeg weet nie.

Nou het ek nie meer die verskoning nie.  Niemand behoort meer daardie verskoning te hê nie.  As daar een ding is wat ek nie kan vat nie, is dit iemand wat sê hy glo dit of dat sonder dat hy kan sê hóékom.

Ek hoef nie meer dubbel te dink nie: Noag se ark is net ‘n storie, dit was altyd verkeerd om mense dood te maak of as slawe te hou, en vrouens hoef nie onderdanig te wees nie.  Al hierdie dinge het ek geweet, min of meer solank soos ek kan onthou.  Hoekom moes ek speel-speel die teenoorgestelde glo?

Dit was egter nie die betwyfelbare moraliteit of die onmoontlike verstandelike wawiele wat my laat opgee het nie.  My vers, die een wat aan my geknaag het tot ek eindelik erken ek glo nie, was Jesaja 1:18:

Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.

Ek kan steeds nie regtig sê wat dit was wat aan my begin knaag het nie.  Ek het gewonder hóé presies dit werk.  Wat is dit wat verander wanneer God my sondes vergewe?  Hoe lyk ‘n skarlaken mens anders as ‘n sneeu-wit een?

Vergifnis, om die waarheid te sê, het my nog altyd effens hartseer gemaak.  Dis die beste wat ons kan doen.  Ons kan nie die pyn van spyt wegneem nie, al wat ons kan doen is om onsself en ander mense te vegewe.  Die oortreding het plaasgevind en vergifnis kan nie dit ongedaan maak nie.  God se vegifnis was veronderstel om só alomvettend te wees dat daar geen sonde oor is nie, maar dit voel nie anders nie.  ‘n Mens voel steeds die skuld en skaam en spyt oor dit wat jy verkeerd gedoen het.

Op daardie stadium het dit nie by my opgekom dat ek dalk net nie dit ooit ervaar het nie.  Al wat ek gedoen het was om te probeer om dit te verstaan.  Ek het bly vra: Hoe werk dit?

Wat is dit omtrent Jesus se lewe, sterwe en opstanding wat maak dat ons die ewige lewe het?  As God dan almagtig is, hoekom kies hy nie ‘n ander manier nie?  Hoekom is die boodskap so onduidelik?  Hoekom is daar net meer vrae onder elke vraag?

Na ‘n ruk was daar ‘n ander vraag, wat ek bly vra het in my kop, oor en oor want ek het nie ‘n antwoord gehad nie:

Móét ek skarlaken wees?

Dit het stilweg gebeur.  Ek het nie meer kerk toe gegaan nie, lankal nie meer gebid nie.  My Bybel, vir ‘n ruk lank nog ingespan in ‘n poging om ‘n antwoord te vind, was onder in die laai.

Ek het nie vir enigiemand vertel nie.  Dit het net geleidelik okay geword vir my om te dink dat God nie bestaan nie.  Ek het nie kwaad gevoel nie.  Ek was nie hartseer nie, al het ek ‘n leemte verwag.

Dit was bevryend om te weet my gedagtes is my eie.  Dit was makliker om mense te leer ken as jy nooit voel jy hoef hulle te veroordeel nie.  Vir ‘n ruk het ek weggekruip en gelieg sodat ek nie daaroor hoef te praat nie.

Nou wil ek daaroor praat.  Ek wil seker maak dat ander mense wat vrae vra en nie antwoorde in die Bybel vind nie, kan weet hulle is nie alleen nie.  Nie in die wêreld nie, en nie onder Afrikaanssprekendes nie.

 

Advertisements

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

8 thoughts on “Watter vers het jou laat twyfel?”

  1. Ek ken nie my Bybel nie, maar wat my laat twyfel is waar daar beweer word gay mense sondig is. Ek glo dit is in die DNA. Jy word so gebore en niemand gaan my oortuig van die teendeel nie.

    Like

    1. Maatjiema, jy maak ‘n goeie punt. Min van ons sou oorleef as ons al die obskure reëls uit die Bybel sou gehoorsaam. Dit gaan my verstand te bowe dat mense dink hulle mag mekaar só veroordeel.

      Liked by 1 person

  2. Baie, dalk meeste, verse het my nog altyd gepla, maar daar was altyd vir my gesê dat ek net moet gló en nie so analities na dinge hoef te kyk nie, en sodra die heilige gees in jou is, sal jy net wéét alles is waar.

    Ek onthou in Sondagskool het ek altyd baie vrae gevra, en ons arme Sondagskool meneer het alles net weggepraat met een of ander banaliteit wat mens net gelos het met nog meer vrae.

    As ‘n volwassene wat ewe skielik homself in ‘n ander land gevind het, en nie omring was met die Afrikaanse-Christen bubble nie, kon ek vir die eerste keer sonder druk my geloof evalueer en uiteindelik myself bevry van al daardie idees wat glad nie sin gemaak het vir my nie.

    Like

    1. Hi Ken
      Dankie dat jy jou storie hier gedeel het. Om uit die bubble te kom help baie: as jy eers ‘n bietjie perspektief het is ‘n kwessie van eerlikheid. Ek is bly dat jy bevry voel en bereid is om jou idees krities te bekyk. Die wêreld het kritiese denkers nodig.

      Like

      1. Dit is snaaks dat julle ‘n wetenskaplike boek lees en dan beweer julle dat julle krities dink, sonder om ‘n enkele eksperiment te doen en seker te maak dat die wetenskaplike boek se feite korrek is.

        Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s