Hopeloos

Vandag kry ek sommer warm oor dié affêre by Tuks.  Daar is glo ‘n nuwe privaatkoshuis wat van volgende jaar studente gaan huisves.  Uitsluitlik Afrikaanse studente, maak nie saak watter ras nie.  En die koshuis sal glo volgens “Christelike waardes” bestuur word.

Ek sal nou nie maak asof ek weet wat dit beteken nie.  Die rede hoekom dit my vies maak is dat dit nog ‘n manier is om laer te trek, die wêreld daar buite uit te sluit.  Ek is ‘n oud-Tukkie, en in retrospek kan ek skaars glo dat ek vir jare lank gedink het my horisonne is verbreed deur die ervaring.  Hoe is dit dat ek nooit ‘n geloofskrisis gehad het nie?  Ek het vreeslik baie pret gehad, goeie vriende van verskillende rasse gehad, allerhande interessante goed geleer en bedink.  Tog was ek steeds geïnsuleer in die NG-gemeenskap.  NG Universiteitsoord is gróót, en die aanddiens was lekker aan die gang.  Meestal was dit ‘n goeie geleentheid om te sosialiseer en die werk wat jy veronderstel is om Maandagoggend in te handig nog so ‘n beitjie te vermy.

Soos met meeste kerke wat ek al bygewoon het kan ek nie veel onthou van wat nou juis gepreek is nie.  Niemand het ooit vir my gevra hoekom ek glo nie, en ek dink dit sou my net vies gemaak het as dit sou gebeur het.  Ek weet nou dit sou wees oor ek geen goeie antwoord het nie.

Hoeveel meer sal ‘n student in huis De Goede Hoop mis?

Die logo op hulle snazzy advertensies is die kasteel in Kaapstad, en al is daar ‘n opening in die muur hoef ‘n mens nie veel verder te lees om te hoor dat net party mense toegelaat sal word nie.  Is daar regtig nog mense wat dink Afrikaners word só bedreig dat hulle in ‘n sterfort moet wegruip?  Kan hulle nie sien hoe hulle verwysings na Jan van Riebeeck en kolonialisme pynlik en onsensitief is nie?

Ek besef daar is nie veel wat die universiteit daaraan kan doen nie.  Studente mag organisasies stig en ondersteun, en ‘n Artikel 21-maatskappy kan hulle dienste beperk tot ‘n taal- of godsdiensgroep, maar om te beweer dit gaan nie oor ras nie is ‘n flou verbloeming.

Eindelik sal dit die studente wat daar woon tot nadeel wees.  Hulle sal die geleentheid mis om self te dink en te besluit hoe hulle wil lewe.  Wat help dit tog om in ‘n fort te woon as niemand jou probeer aanval nie?

Advertisements

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s