Nóg in die hemel, nóg op die aarde

Ben Briggs het onlangs op hierdie blog kommentaar gelewer waarin hy verduidelik dat die Bybel Jesus Christus voorhou as “die enigste weg na die Hemel en die Ewige lewe”.  Die volledige teks is in die kommentaar op my inskrywing van 7 Maart, Die enigste redder en verlosser.

Ek wil graag reageer op verskeie punte wat Ben noem, so ek is van plan om ‘n paar keer oor die onderwerp te skryf.

Ben, jy is welkom om weer kommentaar te plaas as jy wil, en  enigiemand anders wat gedagtes wil deel kan ook gerus saamgesels.

Vandag se onderwerp is ‘n vraag waarmee Ben sy redenasie begin:

Vraag: “Hemel toe gaan – hoe kan ek my ewige bestemming waarborg?”

Voor ek dit kan antwoord, moet ek eers weet: Is daar ‘n hemel?

Ek besef dit klink dalk ligsinnig, maar ek hoop ek kan verduidelik.

Gestel ek is iemand wat nog nooit gehoor het van God, Jesus, die Christengeloof of die Bybel nie.  ‘n Sendeling ontmoet my en vertel vir vir my dat die heelal geskep is deur ‘n wese wat my wil red van my sonde sodat ek kan hemel toe gaan wanneer ek sterf.

Wat sal dit vat vir my om te glo wat hy sê?

Eerstens: Daar is geen wetenskaplike bewys vir ‘n nadoodse bestaan nie.  Daar is geen wetenskaplike bewys vir enige wonderwerke, engele of selfs boodskappe van ‘n bonatuurlike krag nie.

As daar nie wetenskap is wat jou bewering staaf nie, sal ek iets anders nodig hê om my te oortuig dat daar ‘n hemel is.  Ek veronderstel dat die sendeling op hierdie stadium die Bybel voorhou as bewys.

Nou is my vraag: Hoe weet ek die Bybel is betroubaar?

Onder hierdie omstandighede sou ek navorsing doen oor die Bybel om vas te stel hoe betroubaar dit is.  Watter van die historiese bewerings stem ooreen met ander bronne?  Watter van die bonatuurlike bewerings kan moontlik natuurlik verklaar word?  Hoe oud is die teks?  Hoeveel ander weergawes bestaan of het bestaan?

Verder sou ek vra: Uit watter konteks kom die Bybel?

Kan ons seker wees oor die oorsprong van die tekste? Hoeveel invloed het die afgelope 2,500 jaar se leiers gehad op watter tekste bewaar word? Stem dit ooreen met ander godsdienstige tradisies uit dieselfde tyd en plek?  In watter mate kan dit vir my dieselfde betekenis hê as wat dit vir die oorspronklike gehoor gehad het?

Nou is die vraag: Is die Bybel waar?

Is die Bybel die woord van God, skepper van die heelal? Vir die antwoord om ‘ja’ te wees, sou God moes:

  1. Bestaan,
  2. omgee,
  3. …maar nie oor ons nie.

As God sou bestaan, en omgee oor wat soogdiere op een klein planeetjie in ‘n baie groot heelal doen, is dit nie oor hy ons liefhet nie. Gelowiges en ongelowiges het soortgelyke lewensverwagtings, vermoëns, geleenthede, lief en leed.  Die verskille wat ‘n mens wel kan sien word maklik toegeskryf aan gemeenskaplike faktore, eerder as enige bonatuurlike ingryping.

Soos wat jy self sê, later in jou stuk, nie almal gaan hemel toe nie.  Dit beteken God weet hy gaan nie almal red nie.  Hy het dit besluit toe hy die reëls gemaak het.  Maar daar is ‘n manier vir ons om seker te maak dat ons gered kan word.  Wat ons moet doen is om te glo.  Ons moet iets glo wat nêrens bewys kan word nie.  Dit is die een ding wat ons moet doen om gered te word.  Dit maak nie saak hoe moreel ons is nie.  Dit maak nie saak of ons moordenaars en diewe is nie.  Die enigste manier wat ons gered kan word is as ons glo dat Jesus die seun van God is, en dat sy dood die straf was vir ons sonde, en dat sy opstanding ons bevry sodat ons aan hom kan behoort.

Ek moet glo dat ek van nature sondig is, dat ek die dood verdien.  Dat ek persoonlik die skepper van die heelal gekwes het, duisende jare voor my geboorte.  Want ‘n vrou – wat nooit letterlik bestaan het nie – was nuuskierig oor die wêreld waarin sy haar bevind het.

Ek moet glo dat God daardie dag vir my en elke mens op aarde vervloek het, en dat hy nou vir my sulke groot genade toon as om vir my te vertel dat ‘n man – sy eie seun – brutaal moes sterf vir my ontwil.  Ek moet glo dat hy ‘n liefdevolle god is.  Dat hy aan my hart klop, want hy wil hê ek moet hom inlaat.  En die manier wat hy dit vir my vertel is om ‘n onbetroubare boek oor honderde jare deur honderde mense te skryf en nêrens anders ‘n leidraad te los nie.

Op hierdie stadium sal die sendeling dalk vir my sê dat dit iets is wat ‘n mens persoonlik ervaar.  Mits jy die werk doen om ‘n verhouding te kweek met hierdie god wat homself enige tyd aan jou kan openbaar, natuurlik.  Hy doen dit met ander mense.  As dit nie vir jou gebeur nie, glo jy genoeg nie.

Maar ek wil die waarheid glo.  Ek soek na God, maar ek erváár net verwarring.

In die wêreld sien ek geen teken van hom nie, en in die Bybel sien ek ‘n god wat ek nie wil dien nie.

Ek soek, want ek wil weet of dit waar is.  Miskien is dit ‘n kode vir moraliteit, vir wysheid, vir vrede.  As dit op só ‘n manier kan sin maak, dan is daar dalk wel iets, as ek net hard genoeg soek.

Maar die Bybel is nie ‘n foutlose morele riglyn nie.  Dit is nie ‘n suiwer stel aanduidings met oortuigende argumente of onbetwyfelbare wysheid nie.

Daar is baie dinge in die Bybel wat immoreel is.  Die onregverdigheid, die arbitrêre reëls, die vreesaanjaende dreigemente.  Mense wat mekaar verkoop, verniel, vermoor.

Dit is immoreel, dat my saligheid van geloof moet afhang.  Ek kan nie kies om te glo nie, en ‘n opregte soektog na die waarheid neem my verder en verder weg van die punt waar ek oortuig sou wees.

Ek het vir baie jare kerk toe gegaan, en gebid, en Bybelstudie gedoen, en probeer optree volgens die Bybel se leerstellings.  Ek het nooit iets soos ‘n geloofservaring beleef nie. Al probeer ek hóé om God te herken, weet ek dat my gedagtes my eie is.

Verder weet ek ook dat daar geen bewys vir enige bonatuurlike ingryping onder gelowiges is nie.  Mense se geloofservarings het dikwels ‘n fisiologiese of neurologiese verduidelikings.  Illustrasies van breinaktiwiteit lyk dieselfde wanneer die persoon aan God dink as aan hom- of haarself.  Soortgelyke effekte word deur gelowiges uit ander tradisies ervaar, al is die Christengeloof veronderstel om die enigste ware geloof te wees.

As die Bybel waar was, in ‘n dieper sin as die oppervlakkigheid van fundamentaliste en hulle letterlike interpretasies, sou dit beteken dat God doelbewus dit vir my onmoontlik gemaak het om te glo.  Want ek het die waarheid lief, en ek is nie bereid om te glo sonder goeie rede nie.

‘n God wat my vir ‘n ewigheid sal straf omdat ek eerlik is oor wat ek glo, is beslis nie ‘n god wat ek vir ‘n ewigheid wil dien nie.  As ek só daaroor dink is ek bly daar is geen rede om te dink daar is lewe ná die dood nie.

Glo jy daar is ‘n hemel?  Wat is jou rede?  Hoekom glo jy daar is ‘n god, as jy ‘n gelowige is?  Deur watter proses het jy tot die gevolgtrekking gekom dat dit wáár is?

Advertisements

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

2 thoughts on “Nóg in die hemel, nóg op die aarde”

  1. My promleem met die hemel is maklik. Ek dink dit sal ‘n sieldodende plek wees. Na mens elke lofsang, elke form van dien, elke gebed al twintigduisend keer gedoen het, het die ewigheid nog nie eers begin nie.
    Die enigste manier uit die probleem is om te sê dat mens nie verveeld kan word in die hemel nie, wat vir my beteken dat in die hemel is mens minder as mens.
    Ek dink mense wat beloftes maak oor ‘n ewigheid, verstaan nie regtig hoe lank ‘n ewigheid is nie.

    Liked by 1 person

  2. Veronderstel ‘n wetenskaplike gaan na ‘n baie geisoleerde dorpie in die noordelike provinsie wat geen internet of TV het nie. Die gemeenskap is groot christene en die wetensaplike begin deur te se dat die aarde is nie 6000 jaar oud soos julle in die Bybel gelees en verstaan nie dit is miljoene jare oud

    Die hoof predikant vra die wetenskaplike, “hoe weet jy dit?”

    Die wetensaplike se hier is die foto van die “Cosmic Background Radiation”. Klomp baie slim mense het bepaal dit is die vingerafdruk van ‘n oerknaal miljoen jare gelede”

    Die predikant se, “hoe kan ek weet dat die slim mense reg is, want ek kan dit nie verstaan nie?”

    Die wetensaplike se, “jy kan hulle glo, want ‘n ander group “slim” mense het gese hulle stem staam en ondersteun die eerste slim mense se stellings (peer-review).”

    Die predikant vra die wetensaplike, “hoe kan ek seker wees dat die ander groep slim mense reg is in hulle modelle en eksperimente?”

    Die wetensaplike se toe, “Want hulle het alles gepubliseer in geakrediteurde joernale”

    Die predikant vra toe die wetensaplike, “wie het die joernale geakredteur?”

    Die wetensaplike se toe vir die predikang, “Hou op om ‘n klomp k@k vrae te vrae en glo net die stront, jy is n elk geval te dom om te verstaan hoe die goed werk. Jy is nie deur ons geakkrediteur nie en daarom glo ek niks wat jy se nie.”

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s