Heilig, heilig, heilig

Ek kan soort van onthou toe ek geleer het wat die woord “heilig” beteken.  Natuurlik het ek die woord geken.  Ek moes dit ‘n honderd maal of meer hoor voor ek kon praat.  Natuurlik het ek vaagweg ‘n idee gehad oor wat dit beteken.  As iemand my sou vra – niemand het ooit nie – sou ek seker gesê het: “Suiwer, skoon.  Sonder sonde.  Reg.  Soos God my wil hê.”

Ek kan nie onthou hoe oud ek was, of wat die onderwerp onder bespreking was nie.  Dit was ons Dominee aan die woord… of was dit sy vrou?  Al wat ek regtig onthou is die verduideliking:  “…weet julle wat “heilig” beteken?  Dit beteken opsy gesit vir God.”

isolated church

Hoekom sou só ‘n stukkie definisie in my geheue bly hangs as etlike honderde ure se prekerasies niks meer as ‘n algemene indruk gelaat het nie?  Ek was jonk genoeg dat ek nog heeltemal te maklik dinge sou aanvaar bloot oor ‘n gesagsfiguur dit beweer, maar ek het wel die definisie gemeet teen my eie idees.  Dit het klaarblyklik gepas.  Hoe anders kan jy dan suiwer en sonder sonde wees, as om apart van die wêreld te wees?

Die idee van afsondering het my wel gepla.  Die implikasie was dat daar nie juis iets gebeur aan die heilige kant van die gordyn nie.  Die argument was nie “hier by God, hier is die plek om te wees” nie.  Die argument was “moet tog net nie dáár wees nie”.

Die Protestantse teologie waarmee ek grootgemaak is, het my so effe meerderwaardig laat voel teenoor Katolieke: die priesters wat nie mag trou nie, die nonne en monnikke wat in afsondering leef, weg van hulle families af.  Nee, ware heiligheid kom daarvan dat jy ín die wêreld is, maar nie deel daarvan nie.

Dit was eers onlangs wat ek begin verstaan het wat hierdie soort heiligheid – enige soort heiligheid – beteken.  Dit word gedefineer in terme van wat dit nié is nie, eerder as van wat dit ís.  Enigiemand wat hulself as heilig wil beskou moet aardse dinge uitken en vermy.  In ‘n wêreld waar almal volgens “God se wil” optree is niemand heilig nie, want daar is niks om jouself van af te sonder nie.

‘n Begeerte vir heiligheid is dus ‘n begeerte om meerderwaardig te voel teenoor ander mense.

Hoekom is dit dan ‘n probleem?  Want “God se wil” is nie altyd moreel nie, en lei dikwels tot onetiese gedrag.  En as jy nou lus voel om met my te stry oor hoe die Inwkisisie of die Taliban of die Nasionale Party dit bloot verkeerd geinterpreteer het, dan moet ons nou eers ‘n bietjie verder gesels.

Morality vs religion

As “God se wil” werklik bestaan het, sou dit moontlik wees vir mense om dit elke dag verkeerd te verstaan?  Sou ‘n almagtige god – of selfs ‘n bonatuurlike god sonder almag – nie ‘n beter manier kon vind om met ons te praat nie?  Elke gelowige wat werklik glo dink sy het die regte idee, maar niemand kan verduidelik hoekom elke ander groep – selfs elke ander idividu – ook so voel nie.  Selfs al is wat hulle glo teenstrydig met mekaar.

En baie gelowiges verkies dit so.  Dit is tog soveel makliker om heilig te voel in ‘n wêreld vol sondaars.  Dit is tog soveel makliker om nie jou eie foute raak te sien as jy glo – met hart en siel en monde – dat jy beter as hulle is nie.

Good without god

 

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

2 gedagtes oor “Heilig, heilig, heilig”

  1. Jou geloofposkaart

    “Morality is doing what is right, regardless of what you are told Religion is doing what you are told regardless of what is right”

    Dit is interessant dat vanuit ‘n ateïstiese werleldbeskouing, kan jy as ‘n selfverklaarde ateïs, nie vir my ‘n definisie gee van wat reg is (of moreel) is nie.

    Vanuit ‘n ateïstiese wereldbeskouing is die “reg ding” om te doen, dit wat die meerderheid van mense besluit reg is. Dit is veranderbaar ten opsigte tyd; dinge wat reg was in die verlede is nie noodwendig reg nou nie. Dit is ook veranderbaar van gemeenskap tot gemeenskap.

    As voorbeeld, dit wat Hitler gedoen het om die Jode dood te maak was die regte ding vir die Duitse gemeenskap om te doen. Die oorgroote meerderheid het daarvoor gestem om die slegte Jode uit die gemeenskap te verwyer.

    ‘n Persoon wat homself as ‘n ateïs beskou het geen grond om op te staan en te se dat dit wat Hitler gedoen het was verkeerd nie. Wat gee jou as individu die reg om te kan se dat dit verkeerd is om ‘n lewe te neem. Die meerderheid se moes dit is reg.

    Jy kan seker vir jouself se, “Ek as ateïs weet dat ons nou tot op ‘n vlak geëvolueer het om te kan erken dat ‘n lewe is kosbaar en gerespekteer moet word”

    So hoekom is dit verkeerd om jou buurman dood te maak en te braai as jy honger is, maar dit is nie verkeerd om een van die hoender in my agerwerf te slag en op die braai te gooi nie. Die hoender is mos ook ‘n lewendige ding. Net omdat hoenders bietjie laer op die evolusieleer sit, maak dit mos nie reg nie.

    Die meerderheid mense in die weste aanvaar dat dit reg is om hoenders, beeste en skape te slag vir voedsel. Die meerderheid mense in Indië aanvaar dat koeie is heilig en sal dit nie waag om hulle te eet nie. ‘n Baie groot groep van hulle eet ook geen vleis nie, bo op die koeie, omdat hulle dit as ‘n lewende ding beskou”

    SO DIE KORREKTE AFLEIDING IS DIE VOLGEND.
    ‘n Persoon met ‘n ateïstise wereldbeskouing het geen absolute maatstaf om te kan se wat reg of verkeerd is nie. Die beste wat ‘n Ateïs kan se is dat:
    “Dit voel vir my reg of dit voel vir my verkeerd”

    Dit hang van die meerderheid mense af, en in 2050, wanneer die meerderheid mense in die wereld Moslems is, dan sal on maar moet doen wat hulle se, want hulle is dan in besit van wat beskou word as die waarheid.

    Like

Lewer kommentaar