Geloof en toeval

Ek en Toortsie gesels mos tog te lekker die afgelope week, in die kommentaar op my vorige plasing Wie is Jesus nou eintlik?  Ek ken nie vir Toortsie persoonlik nie, maar ek waardeer dat sy eerlik aan die bespreking deelneem.

Sy verduidelik dat geloof “nie altyd met verstand uitgewerk [kan] word nie”.  Ter voorbeeld vertel sy dat haar dominee ‘n vraag aanspreek waaroor sy gewonder het, maar nie gevra het nie.  “Sou jy sê dis toevallig?” vra sy.

Hoe waarskynlik is dit dat sy en die Dominee oor dieselfde onderwerp, Johannes die Doper, sou dink?  Hulle bestudeer tog dieselfde boek – die Bybel – en die evangelies kry in die algemeen veel meer aandag in Bybelstudie as die res van die Bybel.  Boonop is Johannes die Doper ‘n groot karakter in die verhaal van Jesus, so dit is nie heeltemal onwaarskynlik dat enige tween Christene op dieselfde tyd oor hom sou nadink nie.  Verder is daar ‘n gevaar van bevestigingsvooroordeel (confirmation bias).  Hoeveel studiesessies woon Toortsie by waar die onderwerp níé iets is waaroor sy onlangs gedink het nie?

screenshot-139

So, ja, ek dink dit is toeval in kombinasie met bevestigingsvooroordeel.  As God wel bestaan en dít is die manier waarop hy die wêreld beïnvloed, beteken dit dat hy nie meer as dit kán doen nie?  Of beteken dit dat hy nie meer as dit wíl doen nie?  Hoekom, as hy wil hê ons moet in hom glo, stuur hy wonderwerke wat natuurlike verduidelikings het?

screenshot-140

 

Wanneer het dit al ooit mense gebaat om te aanvaar dat ons iets nie met ons verstand kan uitwerk nie?  Hoe sou die wêreld gelyk het as Newton nooit probeer het om swaartekrag te verstaan nie?  As Faraday nooit probeer het om elektrisiteit te verstaan nie?  As ons eers glo dat daar iets is wat ons nie met ons verstand kan uitwerk nie, is daar geen manier om te weet of ons reg is nie.

screenshot-139

Ek is nie arrogant genoeg om aan te neem dat on alles wat daat is kan verstaan nie.  Die feit bly egter staan dat ons slegs dinge sal verstaan as ons probeer.  Daar is ‘n naam vir die neiging om God te sien in enigiets wat jy nie verstaan nie.  Dit is die god-van-die-gapings argument, en hoe meer ons verstaan oor die wêreld, hoe kleiner raak die gapings.

god-of-the-gaps

En wat doen dit aan ‘n mens?  Wat doen dié soort denke aan die individu wat dit doen?  Dit maak my hartseer om te dink aan al die mense wat ten volle verantwoordelikheid aanvaar vir hulle tekortkominge, hulle foute, hulle mislukkings, maar enigiets wat hulle regkry – hulle prestasies, idees, positiewe verhoudings – dáárvoor kry God al die eer.  Hoe verskriklik is dit nie om te glo dat jy slegs vir dit wat sleg is, verantwoordelik is.  Hoe verskriklik is dit om die kudos vir alles wat goed is te gee aan iets wat jy nie verstaan nie.  Iets waarvoor die beste bewys wat jy het, dalk net toeval is.

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

2 gedagtes oor “Geloof en toeval”

  1. Ek wil dit graag noem dat ek en die dominee nie dieselfde boek gebruik nie, behalwe natuurlik die Bybel. Ek is by ‘n ander groep ook, waar ons ‘n boek gebruik.
    Die ds se bybelstudies woon ek nie so gereeld by nie, hy doen ook sy eie studies, elke keer iets anders.
    As ons dieselfde boek sou gebruik en ek voorberei het daarvoor, sou sy antwoord op my ongeopperde vraag nie vreemd wees nie. Groete

    Like

    1. Dankie vir jou kommentaar. Ek het ‘n paar veranderinge gemaak om dit duidelik te maak dat ek na die Bybel verwys, en ek het ook die moontlikheid van ‘n stelselmatige groepstudie verwyder aangesien ek nou weet dit is nie die geval nie.
      Ek is bly jy het die vrymoedigheid om my daarop te dui dat ek iets verkeerd het. Dit is die soort aksie wat die wêreld ‘n beter plek maak.

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar