Geloof is nie ‘n keuse nie. Eerlikheid is.

Dalk het jy my onlangse Facebook-plasing oor sirkelredenasie gesien:

screenshot-21

Dr Kellerman het nog nie geantwoord nie, maar Johann Aucamp het sy gedagtes gedeel.  Ek wil graag reageer op verskeie punte, en dit is hoekom ek nou hier antwoord.

Johann Aucamp skryf namens thePLAN_diePLAN:

Baie dankie dat u thePLAN-diePLAN se blog gekies het om antwoorde op u vrae te kry.

Apostaat = Afvallige, geloofsversaker

U skuilnaam sê dat u aan die een of ander kerk / geloof behoort het maar verkies om nie verder te glo in die leerstellings van daardie kerk of geloof nie. Of dit nou Christen, Moslem, Budhist, Hindu, of, of of was, sal net u weet.

Maak dit saak?  Ek is oop oor die feit dat ek eens ‘n Christen was.

Om geloof in iets of iemand te hê is ‘n persoonlike keuse en kan eers tot uitvoering kom as u die nodige kennis en motivering het om die keuse te maak. Dit is so dat nie almal ‘n verhouding met God begeer nie, net soos wat ons ook nie met almal wat ons pad kruis ‘n verhouding wil aangaan nie.

Hoe kan geloof ‘n keuse wees?  Dit is ‘n keuse om kerk toe te gaan, en om te bid en om Bybelstudie te doen.  Om te glo beteken dat jy oortuig is oor iets.  Dit is nie ‘n keuse nie, dit is ‘n resultaat.  Jy kom ‘n idee teë, bedink dit en besluit of dit redelik is of nie.  As jy besluit dit is redelik sonder goeie rede is jy oneerlik.  As jy besluit om nie inligting in ag te neem nie, omdat dit jou by ‘n ongewensde oortuiging kan uitbring is jy oneerlik.  Geloof is nie ‘n keuse nie.  Eerlikheid is.

Ek aanvaar dat u skool gegaan het en selfs moontlik naskoolse kollege of universitêre opleiding kon gehad het.

Vakke op skool –

Geskiedenis; is alles waar wat in die geskiedenisboeke staan? Het die geskiedskrywers alles presies en akkuraat aangeteken? Glo u dat dit getoets is en wel waar bevind is voordat dit teboek gestel is?

Dit is deel van die studie van die geskiedenis om sulke vrae te vra.  Historici bestudeer mekaar se werk, interpreteer gebeure op verskillende maniere, en kom dikwels tot teenstrydige gevolgtrekkings.  Die vereiste om jou werk te ondersteun deur verantwoordelike navorsing, met die doel dat jy dan kan demonstreer hoekom wat jy sê waar is, word deur die proses van kollegiale toetsing verseker.  Dit is nie ‘n ideale stelsel nie, maar die voordeel is dat ons kan bepaal in watter mate ‘n boek (of ander teks) betroubaar is.

Wiskunde; is alles waar wat beweer word wiskundig bewys kan word? Glo u dat die wiskundiges alles getoets en waar bevind het voordat hierdie formules en bevindinge aan die wêreld verkondig is?

Ja.  Dit is hoe wiskunde werk.

Wetenskap; is alles waar wat die wetenskap beweer waar en akkuraat is? Het u op skool en of na skool in u opleiding aan enige van die eksperimente deel gehad en bewys dat wat daar geskryf staan wel waar en korrek bewys kan word?

Dit is hoe wetenskap werk.  Ons weet nie noodwendig wat is waar en wat is onwaar nie, maar dan doen ons eksperimente of ons vind op ‘n ander manier meer inligting en dan kan ons sê X is sus en Y is nie so nie en oor Z kan ons nog nie seker wees nie.

Wanneer dit by die Bybel en die leringe en leerstellings in die Bybel kom, staan ‘n mens dikwels skepties oor wat daar geskryf staan want dit het nie net met mense te doen nie, maar ook met die geestelike of dan “bonatuurlike” as ‘n mens dit so wil noem.

Presies.  Ek is nuuskierig oor wat Johann Aucamp se definisie van “geestelik” is, veral aangesien hy daarvan ‘n punt maak om “bonatuurlike” in aanhalingstekens te plaas.

Ons as Christene glo in die Drie-enige God: Vader, Seun en Heilige Gees en aanvaar die Bybel as die geskrifte wat deur die Heilige Gees geinspireer is; sowel die Ou Testament as die Nuwe Testament. Net soos die geskiedenisboeke wat op skool en in hoër-onderwys gebruik word, deur mense geskryf is wat die gebeurlikhede op ‘n medium wou vaslê, is die Ou Testament deur diegene vasgelê wat deur God/die Heilige Gees geinspireer is om dit te doen.

Weereens: WAT jy glo verduidelik nie HOEKOM jy glo nie.

Jou gebruik van die woorde “Net soos” is vir my baie interessant.  Die proses waardeur die Ou Testament geskep is, stem glad nie ooreen met die proses om ‘n moderne geskiedenishandboek te skryf nie.  Geen sekulêre uitgewer sal dit eers oorweeg om iets as geskiedenis te publiseer as die skrywer aanvoer dat die inligting in die teks deur God geïnspireer is nie.

Die Nuwe Testament, daarenteen, is deur diegene geskryf wat die aarde saam met Jesus bewandel het; sy disippels, vriende van die disippels, mense wat met ooggetuies en volgelinge van Jesus gepraat en hulle ervaringe en wedervaringe op ‘n medium vasgelê het. Dan is daar ook hulle wat na Christus se dood die evangelie uitgedra het en wat self daaroor geskryf het, of mense by hulle gehad het wat die wedervaringe teboek gestel het. Van Mattheus in die Nuwe Testament tot by Openbaring in die Nuwe Testament lees ‘n mens van die invloed van Christus op mense se lewens en die rol wat die Heilige Gees daarmee saam vervul het.

Net oor jy dit kan lees beteken nie dat dit waar is nie. Johann Aucamp, ek vra jou persoonlik:  Het jy al ooit probeer uitvind of wat jy in dié paragraaf skryf, waar is?

Weet jy vir ‘n feit dat die Nuwe Testament “deur diegene geskryf wat die aarde saam met Jesus bewandel het”?

Weet jy vir ‘n feit dat daar mense was “wat met ooggetuies en volgelinge van Jesus gepraat” het?

Paulus self noem nooit dat hy ooggetuienis gesoek het by die dissipels nie.  Hy verseker die Galasiërs dat alles wat hy preek uit openbaring kom, en  maak seker dat dit tog nie kan lyk asof hy die evangelie by iemand kon leer nie. (Gal 1:11-20)

Die feit is dat ons nie weet watter individue die evangelies geskryf het, of wie hulle bronne was nie. 

Ek is nie ‘n teoloog nie, of ‘n sendeling nie, of ‘n opgeleide prediker nie en het ook wye draaie in my lewe geloop, maar deur die Heilige Gees se ingryping in my lewe het ek my lewe omgekeer en teruggekeer na God die Vader, Jesus Christus die Seun en die Heilige Gees toe. Dit is nie ‘n lewe van maanskyn en rose nie, dit is nie ‘n lewe waar daar ‘n verwagting is dat elke gebed verhoor sal word nie, of elke wens vervul sal word nie, dit is nie ‘n lewe wat net uit voorspoed en oorvloed bestaan nie, maar ‘n geïnspireerde lewe, geesvervulde lewe.

Ek weet nie wat ‘n “geesvervulde lewe” is nie.  As ek moet raai sou ek sê die inspirasie is die gerusstellende gevoel dat daar ‘n groter plan is en dat ons bekommernisse in die langtermyn onbelangrik is.

Die probleem vir my is dat ek dinge wil glo wat waar is.

Dit is waar dat ons ‘n aardelike bestaan het.  Selfs Christene onken dit tog nie.  Ek weet nie of daar iets anders is nie, ‘n bestaan na die dood in watter vorm ookal.  Wat ek wel weet is dat daar maniere is om ‘n verskil te maak aan die wêreld wat ek weet bestaan.  Hierdie wêreld, hierdie planeet, hierdie mense.  Party van my bekommernisse is miskien onbelangrik, maar ek is nie bereid om só te dink oor menseregte, klimaatverandering, oorbevolking of ekonomiese ongelykheid nie.  Dit is dinge wat ons weet bestaan, dinge wat ons weet ons kan – en moet – aan werk.

Ek weet nie of daar ;n ewigheid vir my wag nie, maar ek weet ek is nou hier, en ek kan ‘n verskil maak.  As dit nie ‘n geïnspireerde lewe is nie, wat is?

Daar is geweldig baie webtuistes en blogs waar al hierdie dinge bespreek word en daar is ook gereelde praatjies oor die radio oor hierdie kwessies. U het gekies om Prof Kobus om antwoorde te nader en u sal dit ook vanaf hom ontvang.

Ek is bly om dit te hoor.  Die vraag was:  As die rede hoekom jy in God glo die Bybel is, en die Bybel is betroubaar want dit is God se woord, hoe is dit enigiets anders as ‘n sirkelredenasie?

U kan op ‘n groot verskeidenheid van hierdie kwessies ook antwoorde kry op ander webtuistes en blogs soos byvoorbeeld die volgende webblad:

http://www.antwoord.org.za/2016/05/probleme-geloof/

Nee, ek kan nie.  Glo my, ek het al gesoek.  Maar ek sal bly vra, invgeval iemand wel ‘n goeie rede het vir geloof in God.

U voorbeeld demonstreer eintlik my punt:  Winkelsmidt glo duidelik aan God, en soek na redes vir hoekom Christus die Weg sou wees.  Udo se kommentaar is dus nie eens amper ‘n antwoord op my vraag “hoekom glo jy in God?” nie.

Dan kan u ook op RSG se radio programme se potgooi gaan kyk na klankopnames van die program genaamd “Fiks vir die lewe”. Kyk in besonder of u die program van 9 Oktober 2016 se klankopname kan aflaai om daarna te luister. Dit is gewoonlik die dag na die lewendige uitsending daarvan as ‘n potgooi beskikbaar.

http://www.rsg.co.za/Program-Vorige/311/Fiks-vir-die-lewe

Ek sal erken, ek het nie na die hele program geluister nie.  Dit begin met ‘n beskrywing van geloof as ‘n “gekose waarheid”, wat vir my soos nonsens klink.  ‘n Ding is tog nie waar net oor iemand oortuig is dat dit waar is nie.

Verder was dit alles oor hoe wonderlik geloof is, en wat ons behoort te glo.  Die enigste verduideliking vir hoekom ons behoort te glo is dat dit vervullend is.  Dit klink asof Gustav reken dis die moeite werd om geloof te kies omdat dit jou gelukkig sal maak.

Ek kan nie iets glo tensy ek dink dis waar nie.  Ek is nie bereid om te maak asof ek iets weet wanneer ek dit nie weet nie.  Dit sal ‘n leuen wees as ek sou sê “Ek glo in God”.  As jy eerlik is en sê “Ek glo in God”, stuur gerus vir my ‘n epos (apostaat1@gmail.com) of gesels saam in die kommentaar.  Wat ek graag wil weet is wat die proses was wat jy gebruik het om vas te stel dat dit die waarheid is.

Ek glo dat u ook vanaf die ander skrywers op hierdie blog antwoorde kan verwag.

Hierdie is my beskeie mening en ek vertrou dat dit vir u tot waarde sal wees.

Ek waardeer dat u die tyd geneem het om vir my te skryf.  Ek verstaan ook dat dit moeilik kan wees om hierdie soort gesprekke te voer as mens nie al die relevante inligting het nie.  Gelukkig is dit deesdae maklik om meer te leer oor enigiets waarin jy belangstel.  Die triek is om eerlik te wees en ook dié idees wat in teenstryd met jou eie is, in ag te neem.

Weet net dat Christus u liefgehad het nog lank voordat u in u moederskoot gevorm is en u nog steeds liefhet. Die keuse berus by u of u vir God die Vader, Christus die Seun en die Heilige Gees in u lewe gaan toelaat en uself in hulle liefde gaan koester.

Groete in Christus die Here.

Johann Aucamp

“Weet net”.  Weet net?  HOE?

Advertisements

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s