Oor waarneming en logika

“God is nêrens waarneembaar nie” het ek geskryf en Udo antwoord:

Ek neem aan dat Apostaat bedoel dat God nêrens empiries waarneembaar is nie. Ja, God is nie ʼn fisiese entiteit wat met die sintuie waargeneem of deur die wetenskaplike metodologie ondersoek kan word nie. My oortuiging dat God bestaan en wat my in staat stel om Hom ook te beleef, is egter nie gebaseer of afhanklik van empiriese feite nie. Die vorming van my oortuiging dat God bestaan lê op dieselfde vlak as my oortuiging van estetiese, morele en logiese waarhede en wat met empiriese verifiëring niks te doen het nie.

Hier verskil ek met Udo: Estetiese, morele en logiese waarhede het baie te doen met empirise verifiëring. Wat ons weet oor mekaar en oor die wêreld is die resultaat van waarneming en eksperimentasie.  Ons neem mense waar sodat ons kan bepaal of ons hulle kan vertrou.  Ons bestudeer die wêreld en leer hoe goed in mekaar steek.  Ons pas toe wat ons geleer het en vind uit of ons reg was oor wat ons gedink het.  Ons pas ons idees van logika aan wanneer ons nuwe inligting teëkom.

Ja, logika gebeur in jou verstand, maar dit beteken nie dit het niks te doen met wat jy kan waarneem nie.

Ek kan ‘n soortgelyke argument maak vir moraliteit: As jy iets as pynlik ervaar – wat ‘n empiriese observasie is – en jy gebruik logika en jou verworwe kennis oor die wêreld kan jy verstaan dat ander mense dit ook as pynlik sou ervaar.  Empatie gebeur in jou verstand, maar dit is gebaseer op ervarings en kennis, en dit vorm die basis vir moraliteit.

En wat van estetika?  Waar kom die wonderlike gevoel vandaan as iets mooi of lekker is?  Dit is tog meer as bloot ‘n sensasie.  En tog begin dit met ‘n sensasie: kleure op ‘n skilderdoek, klanke in die lug.  In jou verstand meng daardie sensasie met wat jy weet oor die wêreld, en dit kleur die ervaring in met lae van betekenis, die kenmerk van ‘n diepgaande estetiese ervaring.

Udo erken self dat sy oortuiging dat God bestaan hom in staat stel om God te beleef.  Hy sê ook dat God nie empiries waargeneem kan word nie.  Wat ek nie verstaan nie, is sy bewering dat die oortuiging gevorm is op dieselfde manier as oortuigings oor logika en moraliteit.  Logika en moraliteit is gebaseer op observasie en kennis.  Die oortuiging dat God bestaan is nie.

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

4 gedagtes oor “Oor waarneming en logika”

  1. Apostaat, jy maak die stelling dat moraliteit is gebaseer op observasie en kennis. Dit is luitere onsin. Moraliteit is gebaseer op jou geloofsoortuiging, ‘n beter woord is jou wereldbeskouing.

    As jou wereldbeskouing is dat daar ‘n God is, dan soek jy hom en vind uit wat hy wil he jy moet doen. As jou wereldbeskouing ateisties van aard is dan glo jy in wat die meerderheid se is reg, dit wat die meerderheid se is dan reg vir jou. Jy kan nie ‘n wetenskaplike eksperiment doen en bepaal dat die ding is moreel en die ding is nie.

    As ‘n ateis kan jy nie se dit is moreel of dit is immoreel nie, die beste wat jy kan se is dat jy hou nie daarvan nie of jy hou daarvan. Moraliteit is afhanklik en word bepaal deur wat die meerderheid mense as moreel beskou.

    Dit is vir my so snaaks as ateiste die Bybel beskryf as ‘n immorele boek en die voorbeeld van steeniging as immoreel beskou. Want dit was die aanvaarbare metode vir daardie tydperk gewees. Die meerderheid mense het besluit dat dit goed is, daarom as ateis met jy erken dat dit die regte ding was vir daardie tyd, en meer belangrik volgens jou as ateistiese werldbeskouing dat dit moreel vir hulle was. Al wat jy kan se is dat jy nie daarvan hou nie, maar asb, moet dit nie beskryf as immoreel nie, want jy het geen manier om dit te regverdig nie.

    Like

  2. Hoekom wil atiëste altyd oor die Bybel of God praat? Wat is die punt? Is dit ‘n poging om gelowiges te oortuig van jul geloofsoortuiging (die ironie), of om blote sosiale “brownie points” te wen by gelykdenkende, anonieme internet maatjies wat jou opinie staaf en sodoende beter oor jouself te voel?
    Kom tog oor jou geloofsbeheptheid, niemand gee om wat jy glo nie. Dis jou keuse, nie ‘n seepkus waarop jy hoef te staan en preek nie.
    Hoe lui die ou grappie? “Hoe weet jy iemand is ‘n atiës? … hy sê jou”

    Like

Lewer kommentaar