‘n Mitiese Jesus?

Ek gesels so ‘n rukkie terug met ‘n vriend van my en vertel hom oor Richard Carrier se werk, spesifiek sy boek On the Historicity of Jesus, wat ek toe onlangs klaargelees het.  Carrier is ‘n antieke historikus wat na sy doktorsgraad van crowdfunding gebruik gemaak het om oor navorsingsmetodes en die geskiedenis van die begin van die Christengeloof te skryf.

Sy ondersoek van die bewyse vir ‘n historiese Jesus is ‘n fassinerende blik op ‘n storie wat ‘n mens maklik dink jy reeds ken.  Ek vertel vir my vriend van die mitiese Jesus wat aan sy volgelinge verskyn as ‘n visioen, oor hulle boodskap aan mekaar dat die redding gebeur het en al wat hulle moet doen is om dit te glo.  Ek vertel hom hoe skraal die bewyse is, hoe min feite daar is.  Ek vertel hom oor Paulus se briewe en die manier hoe hy Jesus beskryf.  En die evangelies, die datums, die aannames.

“Hoekom is jy so opgewonde?” vra hy my.

Dit is oor ek dink dis interessant, wil ek sê, maar ek antwoord nie.  Hy het effens die wind uit my seile geneem.

“Is dit oor jy vir Christene kan sê ‘het jou, katvis’?”

Nee, sê ek.  Dit het nie eens regtig by my opgekom nie.  Ek sal tog nie Christene oortuig sommer net so nie.  Ek self dink dit is die moeite werd om verder navorsing te doen, maar ek sou nie sê ek is oortuig nie.  Ek dink maar net dat die Carrier – en ander, bv. Robert Price en David Fitzgerald – dalk ‘n punt beet het.

Nee, ek verbeel my nie ek gaan Christene hiermee uitvang nie.  Ek is opgewonde want ek besef dit is moontlik dat die heel eerste Christene, die apostels self, op presies dieselfde manier geglo het as hedendaagse Christene.  Dat hulle moontlik niks meer as subjektiewe ervarings en vloeibare teologie gehad het om hulle te oortuig nie.  Dat dit maar van die begin af ‘n stryery was omdat daar geen werklike gebeure was nie.  Dat die kruisiging en opstanding nog altyd ‘n storie was wat Christene vir mekaar vertel, oor iets wat gebeur in ‘n tyd en ‘n plek wat hulle nie self kan beleef nie.

Ek sê nie ek weet nie.  Ek weet nie of daar ooit ‘n historiese Jesus was nie.  Maar dit lyk asof dit moontlik is dat hy as ‘n mite begin het, en ek vind dit baie interessant.

screenshot-145

Advertisements

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

4 thoughts on “‘n Mitiese Jesus?”

  1. Apostaat. Die standbeeld van tradisionele Christenskap het inderdaad voete van klei. Nêrens in die Evangelies is daar byvoorbeeld ‘n duidelike uitspraak deur Jesus self waarin hy verklaar dat hy beide volledig God én Mens is, of dat hy deel is van God Drie-Enig en vir mense se sondes sal sterf nie. Bewerings dat die ganse Bybel Goddelik-geïnspireerd is omdat sekere dele van die Ou Testament Jesus se geboorte en kruisdood korrek voorspel het, is gebaseer op wanvertalings van oorspronklike Hebreeuse woorde. Verwysings na Jesus se maagdelike geboorte, wonderwerke en fisiese opstanding vanuit die dood, is dus hoofsaaklik geloofsgebaseerd – sonder genoegsame geskiedkundige getuienis vir die geldigheid daarvan. Wanvertalings en byvoegings van gedeeltes in latere vertalings van die Nuwe Testament ten einde die tradisionele dogmas van kerke mee te regverdig, word nog steeds deur fundamentalistiese Christene gebruik om sekere van hul geloofstandpunte te regverdig. Die tradisionele Christelike “sondeval-verlossing-eindoordeel” meesterverhaal bevat elemente van beide Joodse én heidense Griekse en Romeinse geloofs-tradisies. Dit is dus ‘n kombinasie van beide ‘n eeue-oue tradisie wat die Israeliete vir honderde jare as sogenaamde uitverkore volk van God voorgehou het én van voor-Christelike “heidense” idees aangaande ‘n god wat as mens inkarneer en dan ‘n heldedood sterf vir “gewone” sterflinge. Ek het my standpunte oor die voorgaande stellings meer breedvoerig in hierdie (https://jacosteynblog.wordpress.com/2015/09/07/wat-beteken-dit-om-n-christen-te-wees) artikel bespreek.

    Liked by 1 person

  2. As jy wil weet wat ander te sê het oor Carrier en die groeinde populêre oortuiging van legende en fabrikasies, dan wil ek “The case for the real Jesus” van Lee Strobel (voorheen ‘n ateis) aanbeveel. Carrier se aannames word redelik breedvoerig hierin ondersoek d.m.v. onderhoude met van die wêreld se voorste kundiges. Ander boeke wat hierdie tema aanspreek is “Lord or Legend” van G. Boyd en P. Rhodes en (veral) “Reinventing Jesus: how contemporary skeptics miss the real Jesus and mislead popular culture” van J. Komoszewski, M. J. Sawyer en Daniel B. Wallace. L.g. is bekend as een van die vernaamste kenners op die gebied van tekskritiek; hy is o.a. deur National Geographic genooi om saam met ander kundiges die “Gospel of Judas” se manuskripte te ondersoek. Daar is heelwat van hom op Youtube.
    Laastens, ‘n boek wat sterk wil aanbeveel op die gebiede van sg. fabrikasies van Nuwe Testamentiese geskrifte is “The books the church surpressed” van Dr. Michael Green. Jaco kan ook gerus hierna gaan kyk.

    Like

    1. Cobus. Skrywers soos o.a. Robert M. Price, Acharya S. (D.M. Murdock) en Timothy Freke beweer dat die Jesus-verhaal hoofsaaklik gebaseer is op verhale van vroeëre mitiese helde soos Mithras, Dionysus en Horus wat ook soortgelyk aan Jesus, baie jare gelede as gode ‘n heldedood gesterf het. Lede van die Jesus Seminar in Amerika het op hul eie manier probeer vasstel hoeveel van die woorde wat Jesus na bewering volgens die vier Evangelies gespreek het, werklik deur hom gespreek is. Die Joodse geskiedkundige Josefus het blykbaar “terloops” na Jesus verwys in een van sy skrywes. Terwyl baie geskiedkundiges dit as ʼn vervalsing van sy oorspronklike werk beskou, is daar sommige Christen-apologete wat reken dat dit wel dui op die bestaan van ʼn Jesus wat wonderwerke verrig het. Dis insiggewend dat daar geen ander “amptelike” Joodse of Romeinse geskrifte is wat verwys na ʼn persoon met die naam Jesus wat wonderwerke verrig het en wat gekruisig is nie. Die vier evangelies sowel as Paulus se boeke is volgens baie Bybelwetenskaplikes, eers ná die jaar 50 GE geskryf en kan dus nie as verslae van ooggetuies beskou word nie. Die vier evangelies weerspreek mekaar nog boonop betreffende die besonderhede van gebeure net na die beweerde opstanding van Jesus! Vergelyk in verband hiermee Johannes 20:1, Matthéüs 28:1 en Markus 16:1-2. Die probleem is dat hierdie dinge so lank gelede plaasgevind het, dat dit bykans onmoontlik is om vas te stel wat die werklike verloop van gebeure was. Soortgelyk aan bespiegelinge oor die ontstaan van lewe op aarde, die ouderdom van die aarde, die moontlike bestaan van ‘n “super-beskawing” in Atlantis en die moontlikheid van buiteruimtelike wesens se betrokkenheid by die ontstaan van die mensdom, is bespiegelinge oor die lewe van Jesus, hoofsaaklik op geloof gebaseer.

      Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s