‘n Verligting en ‘n Verantwoordelikheid

As iemand my jonger self sou vra – en niemand het ooit nie – of ek dink homoseksualiteit is aanvaarbaar, sou ek ‘n vae anti-gay stans ingeneem het op grond van my geloof.  Ek het egter hierdie soort situasie vermy omdat ek nie ‘n rede kon gee nie.  Ek sou nie probeer sê die Bybel verbied dit nie, want ek het goed geweet dat ek nie ‘n enkele opvolgvraag sou kon antwoord nie.  Nee, ons stenig nie mense nie.  Nee, ons hou nie slawe nie.  Nee, menstuerende vrouens is nie onrein nie.

Wat was die eintlike rede vir die opinie wat ek gehad het?  Die waarheid is: die gedagte aan selfdegeslagseks het my ongemaklik gemaak.  Die idee van selfdegelsag romantiese verbindings was vir my totaal vreemd.  Dit het bloot nie vir my sin gemaak nie.  Ek kon dit nie verstaan nie, en ek het gedink dít beteken dat dit verkeerd is.

Ek kry skaam as ek nou daaroor dink. Dit was eers toe ek as ‘n student gay mense leer ken het wat dit moontlik was vir my om my vooroordeel geleidelik te laat gaan.  Daar was geen dramatiese konfrontasie waar iemand my reggesê het nie.  Ek het miskien aan die begin gemaak asof ek nie homofobies was nie, maar mettertyd was ek bewus daarvan dat ‘n gewig van my gemoed af lig.  Dit is hoe dit voel om jou vooroordeel neer te sit.

My houding teenoor gay mense het verander omdat ek gesien het dit was verkeerd en skadelik.  As ‘n mens eers só iets weet, is dit onmoontlik om dit nié te weet nie.  En as jy eers weet iets is skadelik, dan moet jy besluit of jy dit gaan doen of nie.  Jy moet kies of jy pyn gaan veroorsaak of vererger.  Hierdie soort insig is beide ‘n verligting en ‘n verantwoordelikheid.

Die rede hoekom ek hierdie blog skryf is omdat ek ‘n soortgelyke ervaring oor God gehad het.  Ek het meer en meer vrae gehad, en meer en meer gesoek na antwoorde, en hoe verder ek gesoek het, hoe duideliker was dit vir my dat ek geen goeie redes het om in God te glo nie.

Ek het vir ‘n rukkie ‘n leemte gevoel.  Dit was vir my swaar om te dink dat ek die mense om my sou seermaak as ek myself tot ateïs verklaar.  Ek het ‘n soort vrede gevoel oor my verlede in die godsdiens.  Ek was nie kwaad nie.  Ek het nie gedink oor hoeveel van my tyd vals belê is, of oor hoe anders my verstand sou kon uitdraai as ek sonder die kerk grootgeword het, of oor al die geleenthede wat my verbygegaan het weens arbitrêre reëls wat ek nie eens verstaan het nie.  Vir ‘n rukkie was my grootste vrees dat ek sou moeilikheid maak in my familie.

Geleidelik het dit egter vir my duidelik geword dat geloof in die bonatuurlike skadelik is, en dit was die rede hoekom ek uit die kas geklim het.  Dit is ook die rede vir hierdie blog.  Die oomblik wat ek dit behoorlik besef het, het dit vir my onmoontlik geword om stil te bly.  Ek doen dit nie ligtelik nie, en ek verstaan baie goed dat ek mense omkrap.

Enigiemand wat dink dat ek onredelik is, is welkom om my te kontak of om kommentaar te lewer.  Ek wil verstaan hoekom mense wat van my verskil, dink soos hulle dink.  As ek verkeerd is wil ek dit uitvind.  As ek verkeerd is dan wil ek dit weet sodat ek met die waarheid kan leef sover dit vir my moontlik is.

Die huidige debat in die NG Kerk sal soortgelyke reise vir ander mense moontlik maak.  Dít beteken dis ‘n postiewe stap of die besluit staan of nie.  Die kerk sal óf gay mense soos mense begin behandel óf die kerk sal lidmate verloor.  As daar ‘n skeuring is, is dit steeds goeie nuus vir sommige gemeentes, en die proses daarvan om te besluit watter kant toe hulle wil gaan sal ‘n waardevolle geleentheid wees vir Christene om oor hulle geloof te dink, te praat en te debateer.

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

6 gedagtes oor “‘n Verligting en ‘n Verantwoordelikheid”

  1. Sjoe. Ek geniet regtig jou blog en ek voel dat ek baie met jou kan relate. Hoe meer vir my daar gevra was oor my geloof en hoe meer ek gesoek het na antwoorde het ek net besef die enigste rede hoekom ek in ‘n god geglo het was omdat ek so grootgemaak was.

    Ek sien uitdaarna om jou volgende stuk te lees. Dis lekker om te weet mens is nie alleen as ateïs in Suid Afrika waar die norm is om gelowig te wees nie.

    Liked by 1 person

    1. Hi Daphné. Dankie vir jou kommentaar.

      Ek vermoed daar is baie mense wat dink hulle glo, maar geen goeie redes daarvoor sou kon gee nie. Vir hulle behoort daar die opsie te wees om godsdiens krities te ondersoek en te verwerp. Die beste manier wat ek ken om dít te doen, is om mense te vra wat hulle glo en hoekom. Dan is dit ‘n kwessie van hoe gewillig iemand is om eerlik te wees.

      Like

  2. Nou hoe het ek hier op jou blog beland? Weettie. Jong, as pastoriekind het ek ook uit die kerk beweeg, moeg vir kerk en godsdiens. Jare later beland ek by naweekkampe, en sien wonderwerke plaasvind. Daar het ek ontdek die verskil tussen die dinge van God of om met God se dinge besig te wees. ‘n Liefdesverhouding met die Here is al wat die verskil maak. Sterkte.

    Like

    1. Hi Spokie, dankie vir jou kommentaar al het jy per ongeluk by my blog uitgekom.
      Wat is die verskil tussen die dinge van God en om met God se dinge besig te wees? Ek dink nie ek verstaan wat jy hier sê nie.

      Like

Lewer kommentaar