Vryheid en spraak

Moet nou liewer nie vra hoe ek by die video uitgekom het nie, maar ek beland onlangs in ‘n gesprek in die YouTube kommentaar, en kom daar ‘n interessante idee teë:

Hier in Australie word geloof beskou as iets om voor skaam te wees en meeste gelowige mense (wat in die minderheid is) steek dit weg en praat nie daaroor nie. Jy, wat jouself as ‘n Ateis beskou sal van die aspek hou.

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, ek is ten gunste daarvan dat mense praat oor hulle oortuigings. Ek is ten gunste daarvan dat die staat mense toelaat om te doen wat hulle wil solank hulle niemand anders skade aandoen nie.

Ek is ten gunste van vryheid van spraak.  Ek is ten gunste daarvan dat ons mekaar se idees mag ondersoek, bevraagteken en selfs aanval.  Om ‘n idee met ‘n idee aan te val is die kern van vryheid van spraak.

Die gelowiges in Australië is vry om oor hulle geloof te praat.  As hulle kies om dit nie te doen nie, het hulle seker rede daarvoor.

Insoveel ek “van die aspek hou”, is dit omdat dit ‘n aanduiding is dat ten minste sommige van die gelowiges stilbly omdat hulle nie bereid is om ‘n gesprek te voer nie.  As hulle nie bereid is om ‘n gesprek te voer nie, is dit reeds vir my ‘n verligting omdat só ‘n persoon nie aktief probeer om mense soos vis te vang nie.

Dit voel dalk vir hulle soos onderdrukking.  Daar is gelowiges wat ‘n vervolgingskompleks het.  Wat godsdiensvryheid vir hulle eie groep wil hê, maar dit nie vir ander gun nie.

Hierdie mense dink dat hulle uitsprake oor geloof, hulle gedrag i.t.v godsdiens en hulle idees oor die wêreld nie mag bevraagteken word nie.  Iemand wat só dink vertel miskien vir homself “ek sou oor my geloof getuig, maar die wêreld is teen my”.  Hy weet dat, as hy iets sou sê, mense sy woorde sou kritiseer, sy idees aanval en sy geloof beledig.  Hulle het net soveel reg om dít te doen, as wat hy het om oor sy godsdiens te praat.  As hulle kritiek genoeg is om hom stil te hou, is dit dalk omdat hy weet hy kan nie sy bewerings staaf nie.

Hoekom hou ek hiervan?  Want solank iemand sy ongegronde idees vir homself hou, is hy nie besig om dit na ander toe te versprei nie.  Ek sou eerder mense help om hulle geloof te laat vaar, maar ek is bereid om gelowiges se stilte as vordering beskou.

Ek stel belang daarin om by te dra tot positiewe sosiale veranderinge.  Dit is my opinie dat die samelewing beter af is as mense vry is om mekaar se idees te bestudeer.  As ons gewoond is daaraan dat ons gemeenskap ons daarop wys as ons bewerings maak sonder dat ons kan demonstreer dat wat ons sê waar is, sal ons almal meer verantwoordelik te werk gaan.

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

One thought on “Vryheid en spraak”

Lewer kommentaar