Soek en jy sal uitvind

Waarna het ek gesoek toe ek ‘n Christen was?

Die gevoel dat God daar is. ‘n Manier om seker te wees dat ‘n idee wat by my opgekom het van die Heilige Gees af kom, eerder as van myself af. Daardie warm gevoel van liefde wat ander gelowiges soms beskryf. ‘n Manier om sin te maak uit die skrif wanneer dit nie vir my sinmaak nie. ‘n Manier om te weet my gebede word gehoor. ‘n Manier om God se volledige plan te vereenselwig met die idee dat ons gebede hom kan beïnvloed. ‘n Manier om die optrede van die geleerdes in die kerk te vereenselwig met die morele lesse van Jesus. ‘n Manier om te verstaan hoekom die kerk in soveel stukkies geskeur is, as God dan die waarheid kan bekend maak.

Ek het gesoek na hierdie dinge omdat ek nie bloot kon maak asof ek níé vrae het nie. Ek het gebid, en gelees om te soek na antwoorde. Vir jare was ek oortuig dat ek net nie goed genoeg verstaan nie. Dit het nie by my opgekom om te dink dat God dalk nie bestaan nie. As ek daaroor sou dink, sou ek sê: Natuurlik bestaan God. Almal sê so. So daar moet ‘n manier wees vir al hierdie ander goed om sin te maak.

My soektog het geen resultate gelewer nie, so ek het my benadering verander. Ek het opgehou bid: dit het duidelik geen impak gehad op enigiets nie. My Bybel het vir ‘n jaar of twee op die rak gesit.

Stilweg het ek begin wonder of God dan regtig bestaan. Dit het vir my gelyk asof alles meer sin sou maak as dit die geval is. Stilweg het ek begin lees wat ateïste daaroor te sê het. Ek het gesoek na debatte met apologete, na gelowiges se getuienis oor hoekom hulle glo. Ek het gelees oor die tekste van die Bybel, oor die geskiedkundige konteks van die skif, oor die ander godsdienste wat deur die eeue heen bestaan het.

Dit was soos om die fokus op jou kamera te verstel, en skielik kan jy duidelik sien waarna jy kyk. Daar was ‘n impuls om bang te voel (ek wil tog nie vir God kwaad maak met my vrae nie), maar die vrees kon nie regtig vlamvat nie.

Teen hierdie tyd het ek begin gewoond raak daaraan om oor God te dink as ‘n “as”, eerder as ‘n “is”.

As God sou bestaan, maak dit geen verskil aan die feit dat ek vrae het nie.  Of ek dit navors of nie, die onsekerheid is daar in my verstand.  Selfs al sou ek voorgee dat ek nie wonder nie, sou God tog dit weet, so wat sou dit help?
En as God nie bestaan nie, dan kan hy my nie straf vir my ongeloof nie.  Dan moet ek self uitwerk hoe ek moet lewe.  Dan is daar nie skatte in die hemel nie.  Dan moet ek besluit watter impak ek hier op aarde wil hê.

Soms sê gelowiges dat ateïste bloot lui is.  Dat ons nie die moeite wil doen om God te dien nie. Dat ons nie die moeite wil doen om onsself van sonde te weerhou nie.  Ek kan nie namens ander mense praat nie, maar in my geval is dit duidelik meer werk om sonder die idee van God te leef.  Ek is vir myself verantwoordelik.  Dit is ek wat ongelukkig is daarooor as ek my tyd mors, of iemand seermaak, of minder doen as wat ek kan.  Dit is ek wat myself moet vergewe vir die dinge wat ek verkeerd doen.  Ek moet self besluit watter impak ek op my gemeenskap gaan hê.  Ek moet self besluit hoe ek my verhoudings met mense rondom my gaan handaaf.

So, nee, ek vrees nie God se oordeel nie.  Dit beteken natuurlik nie dat die proses van my apostase pynloos was nie.  Aan die begin was dit só pynlik dat ek met niemand daaroor gepraat het nie.  Ek was bang dat my familie my sou verwerp.  Dit het gevoel asof ek skielik aan die ander kant van ‘n diep donga was, verwyder van die gemeenskap waarin ek grootgeword het.  Ek wou nie eens met my ateïstiese liberale vriende daaroor praat nie, want ek was verleë daaroor dat dit my so lank gevat het.  Ek was verleë oor ek voorheen my geloof so flouwegs verdedig het.  Dit alles het my eensaam laat voel.  Ek het nie na God verlang nie.  Ek was nie vir hom kwaad nie.  Ek het lankal nie meer aan hom gedink as ‘n wese nie.

Ek is bly dat ek gesoek het.  Ek is bly vir wat ek gevind het.  Daar is spyt dat ek nie vroeër wakker geword het nie, maar daaraan kan ek nou niks doen nie, en ek leer nog hoe om myself te vergewe.  Al wat ek nou kan doen is om vir ander mense in ‘n soortgelyke posisie te sê: Dit is okay om te twyfel.  Dit is okay om nie te glo nie.  Dit is okay om dit te sê.
Advertisements

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

One thought on “Soek en jy sal uitvind”

  1. Dit titel van die artikel is “soek en jy sal vind” Maar dit is belangrik om nooit op te hou soek nie.

    Daar word vir my vertel dat die wetenskap is gebasseer op feite. Kom ons ondersoek die “international space station” en kyk of dit vir ons sin maak.

    Wanneer ‘n mens krities na die ISS kyk en jy sien bewys na bewys dat hulle nie regtig daarbo is nie maar dat dit alles “fake” is. Dit is dan wat die vraag opkom; hoekom het hulle nie regtig ‘n “space station in orbit” nie, hoekom “fake” hulle dit, eerder as om dit regtig te doen?

    Die belangriker vraag is dan die volgende; as hulle ons almal so maklik om die bos kan ly deur die “fake” ISS, wat ander sogenaamde feite in die wetenskap het hulle ook vervals?

    Wie se oe het ook oopgegaan nadat hulle begin weet het waarvoor om te kyk? Ons glo so maklik veral as die veronderstelde feit van ‘n bron af kom wat ‘n betroubare bron behoort te wees.

    Hoe meer ondersoek jy instel oor die ISS, die maanlandings en die “Space walks”, hoe meer kan jy jouself skop dat jy dit nie raakgesien het nie, en dat jy so maklik kon mislei word, alles in die naam van “Scienctism”.

    “Scienctism” is die geloof dat die wetenskap is slegs gebasseer op feite. Wat as die bewyse jou daartoe lui dat omtrend alles aangaande die ruimte vervals is, hoe kan jy seker wees dat ander velde van die wetenskap nie dieselfde “red herrings” het nie?

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s