Hopeloos

Vandag kry ek sommer warm oor dié affêre by Tuks.  Daar is glo ‘n nuwe privaatkoshuis wat van volgende jaar studente gaan huisves.  Uitsluitlik Afrikaanse studente, maak nie saak watter ras nie.  En die koshuis sal glo volgens “Christelike waardes” bestuur word.

Ek sal nou nie maak asof ek weet wat dit beteken nie.  Die rede hoekom dit my vies maak is dat dit nog ‘n manier is om laer te trek, die wêreld daar buite uit te sluit.   Lees verder Hopeloos

Advertisements

Wikipedia en Afrikaanse Ateïste

Vanoggend steek ek toe op die Afrikaanse weergawe van Wikipedia vas. Ek gebruik gewoonlik die Engelse weergawe omdat dit veel meer inligting bevat, maar miskien beteken dit ek is deel van die probleem. As daar geen skeptici werk aan die Afrikaanse wiki nie, gaan die gelowiges altyd hulle kant stel sonder enige weerstand. Lees verder Wikipedia en Afrikaanse Ateïste

Ek glo nie

Dit was ‘n verligting toe ek dit eindelik erken.  Dit het gevoel soos daardie oomblik wat jy besef dat die persoon van wie jy hou, ook vir jou gevoelens het.  Dit was nie op daardie oomblik asof ek ‘n las ontsnap het nie.  Wat ek gevoel het was vreugde en opwinding oor al die dinge was skielik moontlik was.

Ek was verlig oor ek kon ophou dubbeldink.  Ek was lankal moeg vir die dramateks wat ek gedurig moes uitvoer: Ek ken die Bybel en ek het genoeg verstand om argumente aanmekaar te slaan.  My mikpunt was altyd om nét genoeg deel te neem dat die aandag nie by my talm nie.

Dit is steeds nie my bedoeling om aandag te trek nie.  Ek skryf hier anoniem omdat ek nie gereed is om my familie se harte te breek nie.  Tog kan ek nie ontken dat dit ‘n onderwerp is waaroor ek gereeld dink en lees nie, so hierdie blog se doel is tans om ateïsme en afvalligheid te bespreek.  Ek skryf in Afrikaans omdat ek wens daar was meer inligting beskikbaar oor Afrikaners se geloofstryd, hulle twyfel, en hulle apostase.

So, ek is beide ‘n ateïs en ‘n apostaat, maar dit is die apostase waaroor ek dink.  Ek voel die skeiding tussen my en die kerk, tussen my en Christene, en dan ek dink: “Kom kyk hoe lyk dinge van hierdie kant af!”  Dit hou vir my ‘n vreemde fasinasie in dat party mense opreg glo, party mense nie glo nie maar steeds godsdienstig optree, en ‘n hele klomp ander mense vaagweg sal aanvoer dat God bestaan en dat almal maar moet probeer om goed op te tree.

Laat gerus vir my weet wat julle dink oor wat ek te sê het.  Meningsverskille is te verwagte, maar ek dink dit kan na produktiewe gesprekke lei.

Avatar fb