Soek en jy sal uitvind

Waarna het ek gesoek toe ek ‘n Christen was?

Die gevoel dat God daar is. ‘n Manier om seker te wees dat ‘n idee wat by my opgekom het van die Heilige Gees af kom, eerder as van myself af. Daardie warm gevoel van liefde wat ander gelowiges soms beskryf. ‘n Manier om sin te maak uit die skrif wanneer dit nie vir my sinmaak nie. ‘n Manier om te weet my gebede word gehoor. ‘n Manier om God se volledige plan te vereenselwig met die idee dat ons gebede hom kan beïnvloed. ‘n Manier om die optrede van die geleerdes in die kerk te vereenselwig met die morele lesse van Jesus. ‘n Manier om te verstaan hoekom die kerk in soveel stukkies geskeur is, as God dan die waarheid kan bekend maak.

Ek het gesoek na hierdie dinge omdat ek nie bloot kon maak asof ek níé vrae het nie. Ek het gebid, en gelees om te soek na antwoorde. Vir jare was ek oortuig dat ek net nie goed genoeg verstaan nie. Dit het nie by my opgekom om te dink dat God dalk nie bestaan nie. As ek daaroor sou dink, sou ek sê: Natuurlik bestaan God. Almal sê so. So daar moet ‘n manier wees vir al hierdie ander goed om sin te maak.

Lees meer Soek en jy sal uitvind

Welgeskape

In die begin het ek gedink die Bybelse skeppingsverhaal is bloot ‘n bietjie onprakties.  Byvoorbeeld, hoe kan lig bestaan voor die son?  Die idee dat ‘n hele skepping ses dae sou neem was só duidelik ‘n figuurlike beskrywing dat ek skaars aandag gegee het aan dié (veel groter) illogika.  Ek het geweet die dinosourusse het miljoene jare gelede geleef, en dat mense toe nog nie bestaan het nie.  Die Bybel is ook vol stories wat ons allerhande goed moet leer, so hoekom sal so ‘n blatante mite letterlik bedoel word? Lees meer Welgeskape

Ek glo nie

Dit was ‘n verligting toe ek dit eindelik erken.  Dit het gevoel soos daardie oomblik wat jy besef dat die persoon van wie jy hou, ook vir jou gevoelens het.  Dit was nie op daardie oomblik asof ek ‘n las ontsnap het nie.  Wat ek gevoel het was vreugde en opwinding oor al die dinge was skielik moontlik was.

Ek was verlig oor ek kon ophou dubbeldink.  Ek was lankal moeg vir die dramateks wat ek gedurig moes uitvoer: Ek ken die Bybel en ek het genoeg verstand om argumente aanmekaar te slaan.  My mikpunt was altyd om nét genoeg deel te neem dat die aandag nie by my talm nie.

Dit is steeds nie my bedoeling om aandag te trek nie.  Ek skryf hier anoniem omdat ek nie gereed is om my familie se harte te breek nie.  Tog kan ek nie ontken dat dit ‘n onderwerp is waaroor ek gereeld dink en lees nie, so hierdie blog se doel is tans om ateïsme en afvalligheid te bespreek.  Ek skryf in Afrikaans omdat ek wens daar was meer inligting beskikbaar oor Afrikaners se geloofstryd, hulle twyfel, en hulle apostase.

So, ek is beide ‘n ateïs en ‘n apostaat, maar dit is die apostase waaroor ek dink.  Ek voel die skeiding tussen my en die kerk, tussen my en Christene, en dan ek dink: “Kom kyk hoe lyk dinge van hierdie kant af!”  Dit hou vir my ‘n vreemde fasinasie in dat party mense opreg glo, party mense nie glo nie maar steeds godsdienstig optree, en ‘n hele klomp ander mense vaagweg sal aanvoer dat God bestaan en dat almal maar moet probeer om goed op te tree.

Laat gerus vir my weet wat julle dink oor wat ek te sê het.  Meningsverskille is te verwagte, maar ek dink dit kan na produktiewe gesprekke lei.

Avatar fb