‘n Mitiese Jesus?

Ek gesels so ‘n rukkie terug met ‘n vriend van my en vertel hom oor Richard Carrier se werk, spesifiek sy boek On the Historicity of Jesus, wat ek toe onlangs klaargelees het.  Carrier is ‘n antieke historikus wat na sy doktorsgraad van crowdfunding gebruik gemaak het om oor navorsingsmetodes en die geskiedenis van die begin van die Christengeloof te skryf.

Sy ondersoek van die bewyse vir ‘n historiese Jesus is ‘n fassinerende blik op ‘n storie wat ‘n mens maklik dink jy reeds ken.  Ek vertel vir my vriend van die mitiese Jesus wat aan sy volgelinge verskyn as ‘n visioen, oor hulle boodskap aan mekaar dat die redding gebeur het en al wat hulle moet doen is om dit te glo.  Ek vertel hom hoe skraal die bewyse is, hoe min feite daar is.  Ek vertel hom oor Paulus se briewe en die manier hoe hy Jesus beskryf.  En die evangelies, die datums, die aannames.

“Hoekom is jy so opgewonde?” vra hy my. Lees meer ‘n Mitiese Jesus?

Hamlet is ‘n Christen!

Op universiteit het ek ‘n Engelse letterkundeklas geneem, en een van die dosente was ‘n wonderlike ou man wat met groot entoesiasme al groter en groter beduie het wanneer hy opgewerk raak oor die woorde.  Die grootste les wat ek ooit by hom geleer het is hoe dit lyk wanneer iemand sy werk liefhet.

Bardolatry

Lees meer Hamlet is ‘n Christen!

Hopeloos

Vandag kry ek sommer warm oor dié affêre by Tuks.  Daar is glo ‘n nuwe privaatkoshuis wat van volgende jaar studente gaan huisves.  Uitsluitlik Afrikaanse studente, maak nie saak watter ras nie.  En die koshuis sal glo volgens “Christelike waardes” bestuur word.

Ek sal nou nie maak asof ek weet wat dit beteken nie.  Die rede hoekom dit my vies maak is dat dit nog ‘n manier is om laer te trek, die wêreld daar buite uit te sluit.   Lees meer Hopeloos

Watter vers het jou laat twyfel?

Ek lees op Patheos Jeremy Myers se stuk  11 Bible Verses That Turn Christians Into Atheists, en dink weer oor die vroeë dae van my Na-Christus era.  Elkeen van Myers se elf verse pla my, maar ek skaam my nou om te sê dat dit my nie gepla het toe ek nog deel van die kerk was nie.

Ek skaam my, want enige ordentlike mens behoort gepla te voel oor die vreeslike goed wat die Bybel sê is God se wil.  Hoe is ek altyd daarby verby?  Kon ek regtig soveel deelneem aan die mob-mentaliteit, daardie kulkuns van die Nazis waar jy weet jy kan nie protesteer nie, en dan maar maniere vind om nie daaroor te dink nie. Lees meer Watter vers het jou laat twyfel?

Woedend

Ek het stilweg vir God laat vaar, saggies agter by die kerk uitgesluip en net nie weer teruggegaan nie. Vir ‘n ruk het ek nog die regte soort geluide gemaak sodat ek nie daaroor hoef te praat nie. By ‘n partytjie het iemand genoem dat ek ‘n Christen is – ek het tog voorheen só geïdentifiseer – en ek het niks gesê nie. Dit het my bitter ongemaklik gemaak, maar ek was oortuig dit sou erger gewees het as ek sou verduidelik. Ek was half bang mense sou van my verwag om godsdiens te kritiseer, of om presies te artikuleer hoe ek by my posisie uitgekom het. Lees meer Woedend

Ek glo nie

Dit was ‘n verligting toe ek dit eindelik erken.  Dit het gevoel soos daardie oomblik wat jy besef dat die persoon van wie jy hou, ook vir jou gevoelens het.  Dit was nie op daardie oomblik asof ek ‘n las ontsnap het nie.  Wat ek gevoel het was vreugde en opwinding oor al die dinge was skielik moontlik was.

Ek was verlig oor ek kon ophou dubbeldink.  Ek was lankal moeg vir die dramateks wat ek gedurig moes uitvoer: Ek ken die Bybel en ek het genoeg verstand om argumente aanmekaar te slaan.  My mikpunt was altyd om nét genoeg deel te neem dat die aandag nie by my talm nie.

Dit is steeds nie my bedoeling om aandag te trek nie.  Ek skryf hier anoniem omdat ek nie gereed is om my familie se harte te breek nie.  Tog kan ek nie ontken dat dit ‘n onderwerp is waaroor ek gereeld dink en lees nie, so hierdie blog se doel is tans om ateïsme en afvalligheid te bespreek.  Ek skryf in Afrikaans omdat ek wens daar was meer inligting beskikbaar oor Afrikaners se geloofstryd, hulle twyfel, en hulle apostase.

So, ek is beide ‘n ateïs en ‘n apostaat, maar dit is die apostase waaroor ek dink.  Ek voel die skeiding tussen my en die kerk, tussen my en Christene, en dan ek dink: “Kom kyk hoe lyk dinge van hierdie kant af!”  Dit hou vir my ‘n vreemde fasinasie in dat party mense opreg glo, party mense nie glo nie maar steeds godsdienstig optree, en ‘n hele klomp ander mense vaagweg sal aanvoer dat God bestaan en dat almal maar moet probeer om goed op te tree.

Laat gerus vir my weet wat julle dink oor wat ek te sê het.  Meningsverskille is te verwagte, maar ek dink dit kan na produktiewe gesprekke lei.

Avatar fb