‘n Verligting en ‘n Verantwoordelikheid

As iemand my jonger self sou vra – en niemand het ooit nie – of ek dink homoseksualiteit is aanvaarbaar, sou ek ‘n vae anti-gay stans ingeneem het op grond van my geloof.  Ek het egter hierdie soort situasie vermy omdat ek nie ‘n rede kon gee nie.  Ek sou nie probeer sê die Bybel verbied dit nie, want ek het goed geweet dat ek nie ‘n enkele opvolgvraag sou kon antwoord nie.  Nee, ons stenig nie mense nie.  Nee, ons hou nie slawe nie.  Nee, menstuerende vrouens is nie onrein nie. Lees meer ‘n Verligting en ‘n Verantwoordelikheid

Seks en die Bybel

Die sogenaamde “gay-debat” by die NG-Kerk se sinode moedig mense aan om oor moraliteit en seksualiteit te dink, en dit het ook daardie effek op my.  Tinus van Zyl skryf in die Kerkbode oor wat presies dit is wat ‘n daad sonde maak.  Hy skryf dat seks binne die huwelik “sonde kan wees – as ‘n man sy vrou verkrag”.

Dié gedagte krap aan my.  Watter van die gebooie verbreek die man dan?  ‘n Vrou moet dan onderdanig wees.  ‘n Vrou gaan dan van een meester na ‘n ander wanneer sy uit haar pa se huis na haar man sin toe trek.  ‘n Vrou is tog skuldig aan haar eie verkragting as sy nie hard genoeg om hulp roep nie.

Dit is nie genoeg vir ‘n vrou om vir ‘n man “nee” te sê nie.  Sy moet seker maak iemand ander hoor haar, anders is sy net so skuldig soos hy.  En hy word slegs gestraf as sy reeds getroud is.  ‘n Man wat ‘n ongetroude vrou verkrag moet met haar trou en kan nie van haar skei nie. Lees meer Seks en die Bybel

Hopeloos

Vandag kry ek sommer warm oor dié affêre by Tuks.  Daar is glo ‘n nuwe privaatkoshuis wat van volgende jaar studente gaan huisves.  Uitsluitlik Afrikaanse studente, maak nie saak watter ras nie.  En die koshuis sal glo volgens “Christelike waardes” bestuur word.

Ek sal nou nie maak asof ek weet wat dit beteken nie.  Die rede hoekom dit my vies maak is dat dit nog ‘n manier is om laer te trek, die wêreld daar buite uit te sluit.   Lees meer Hopeloos

Watter vers het jou laat twyfel?

Ek lees op Patheos Jeremy Myers se stuk  11 Bible Verses That Turn Christians Into Atheists, en dink weer oor die vroeë dae van my Na-Christus era.  Elkeen van Myers se elf verse pla my, maar ek skaam my nou om te sê dat dit my nie gepla het toe ek nog deel van die kerk was nie.

Ek skaam my, want enige ordentlike mens behoort gepla te voel oor die vreeslike goed wat die Bybel sê is God se wil.  Hoe is ek altyd daarby verby?  Kon ek regtig soveel deelneem aan die mob-mentaliteit, daardie kulkuns van die Nazis waar jy weet jy kan nie protesteer nie, en dan maar maniere vind om nie daaroor te dink nie. Lees meer Watter vers het jou laat twyfel?

Welgeskape

In die begin het ek gedink die Bybelse skeppingsverhaal is bloot ‘n bietjie onprakties.  Byvoorbeeld, hoe kan lig bestaan voor die son?  Die idee dat ‘n hele skepping ses dae sou neem was só duidelik ‘n figuurlike beskrywing dat ek skaars aandag gegee het aan dié (veel groter) illogika.  Ek het geweet die dinosourusse het miljoene jare gelede geleef, en dat mense toe nog nie bestaan het nie.  Die Bybel is ook vol stories wat ons allerhande goed moet leer, so hoekom sal so ‘n blatante mite letterlik bedoel word? Lees meer Welgeskape

‘n Gebore Christen

Christenskap was nie ‘n keuse vir my nie.  Die kerk was deel van die lewe vir solank as wat ek kan onthou, en in my jonger dae het dit nooit by my opgekom om my teë te sit nie.

Toe ek ‘n kind was het ek soos ‘n kind geglo.  Ek het gehou van kerk toe gaan.  My ouers was nie vreeslik sosiaal nie, en die kerk was ‘n geleentheid om by ander mense te wees.  Die grootmense sou gedurig eindeloos vergader, en dan kon ek en die ander kinders lekker speel in die kerk: onder die banke, in die saal, agter die klein verhogie.  Kanseltrappies op – genade, dis ‘n groot Bybel dié – en as ek op my tone staan kan ek amper vir die leë banke preek. Lees meer ‘n Gebore Christen

Ek glo nie

Dit was ‘n verligting toe ek dit eindelik erken.  Dit het gevoel soos daardie oomblik wat jy besef dat die persoon van wie jy hou, ook vir jou gevoelens het.  Dit was nie op daardie oomblik asof ek ‘n las ontsnap het nie.  Wat ek gevoel het was vreugde en opwinding oor al die dinge was skielik moontlik was.

Ek was verlig oor ek kon ophou dubbeldink.  Ek was lankal moeg vir die dramateks wat ek gedurig moes uitvoer: Ek ken die Bybel en ek het genoeg verstand om argumente aanmekaar te slaan.  My mikpunt was altyd om nét genoeg deel te neem dat die aandag nie by my talm nie.

Dit is steeds nie my bedoeling om aandag te trek nie.  Ek skryf hier anoniem omdat ek nie gereed is om my familie se harte te breek nie.  Tog kan ek nie ontken dat dit ‘n onderwerp is waaroor ek gereeld dink en lees nie, so hierdie blog se doel is tans om ateïsme en afvalligheid te bespreek.  Ek skryf in Afrikaans omdat ek wens daar was meer inligting beskikbaar oor Afrikaners se geloofstryd, hulle twyfel, en hulle apostase.

So, ek is beide ‘n ateïs en ‘n apostaat, maar dit is die apostase waaroor ek dink.  Ek voel die skeiding tussen my en die kerk, tussen my en Christene, en dan ek dink: “Kom kyk hoe lyk dinge van hierdie kant af!”  Dit hou vir my ‘n vreemde fasinasie in dat party mense opreg glo, party mense nie glo nie maar steeds godsdienstig optree, en ‘n hele klomp ander mense vaagweg sal aanvoer dat God bestaan en dat almal maar moet probeer om goed op te tree.

Laat gerus vir my weet wat julle dink oor wat ek te sê het.  Meningsverskille is te verwagte, maar ek dink dit kan na produktiewe gesprekke lei.

Avatar fb