Uitverkore

kinderbybelNoudat ek opnuut oor al dié dinge dink, val dit my mos op dat ek die Ou Testament lank terug gelees het.  Gisteraand wonder ek mos presies hoe Abraham se storie begin, en lees toe ‘n bietjie weer in Genesis.

Soos wat ek lees onthou ek die prentjies uit die Kinderbybel wat ons gehad het as kinders.  (Angus McBride se illustrasies is gewoonlik die basis van hoe ek my enigiets uit die Bybel voorstel) Só onthou ek Noag se ark, en die reënboog daarna, en die toring van Babel.  Maar ek het nie ‘n prentjie vir ‘n kort verhaaltjie in Genesis 12 nie.  Abram en sy familie kom skaars in die beloofde land aan, of daar’s ‘n hongersnood en hulle vlug Egipte toe.  Daar aangekom, en Abram se blink plan om te verhoed dat enige Egiptenaar hom doodmaak ter wille daarvan om Sarai by hom te steel is om te sê hulle is broer en suster.  Kort voor lank is die farao op haar verlief, en neem haar om by hom in sy paleis te gaan bly.

Dinge werk heel goed uit vir Abraham.  Die Egiptenare gee vir Abram slawe en vee.  Dan skielik word die farao en sy mense getref met “swaar plae”, en klaarblyklik is dit ‘n duidelike teken dat Sarai eintlik Abram se vrou is.  Farao jaag hulle weg, maar Abram neem sy nuwe rykdom saam, en so kom almal weer terug Kanaän toe.

Dit het my waarskylik verby gegaan toe ek dié verse as kind gelees het, maar dit is beslis nou baie interessant.  Abram volg God se oorspronklike instruksies wat hom na ‘n plek toe neem waar hulle nie kan oorleef nie.  Sonder enige verdere raad maak hy maar die plan om sy vrou aan die Egiptiese koning te verkoop, en word eindelik ryk nadat Sarai oënskynlik vir Farao ‘n seksueel oordraagbare siekte gee.

Wanneer mense die Bybel kritiseer noem hulle gereeld Abraham se gewilligheid om Isak te vermoor as ‘n voorbeeld van hoekom die Bybel ‘n immorele stelsel voortsit.  Wat baie mense nie weet nie, is dat Abraham van sy vrou ‘n prostituut maak, eers in Egipte en weer in Genesis 20. Dié keer is dit  koning Abimelek van Gerar, en ook hy beloon Abraham ryklik vir sy bedrog.  Later doen Isak dieselfde ding, weereens in Gerar.

Wat is ons veronderstel om daaruit te leer dat God se uitverkore volksvader ‘n man is wat só optree?  As ons dit van Sarai se standpunt bekyk, lyk die storie so:

Sy is getroud met haar halfbroer, en hy kondig aan dat God met hom praat.  Op sy aandrang trek hulle herwaarts en derwaarts, doen hulle altyd watookal Abram besluit.  Letterlik die eerste keer wat ‘n aksie aan Sarai toegeskryf word is wanneer sy Abram aanraai om by Hagar te gaan slaap.  Met ander woorde: sy is passief deel van die storie, sy word geneem en gegee, begeer en bewaar soos ‘n voorwerp. En natuurlik is sy nie die eerste of die laaste vrou wat só behandel word in die Bybel nie.

Dit is fundamenteel vir my onaanvaarbaar om morele riglyne op hierdie verhaal te baseer.  Daar is geen regverdiging vir Abraham se verkiesing nie, geen redes word genoem vir hoekom God hom kies nie.  Elke keer wat Abraham iets verkeerd doen straf God die mense vir wie hy lieg, eerder as vir Abraham self.

Die les wat ons veronderstel is om hieruit te leer is dat ons moet glo, maak nie saak wat nie.  Ek stel nie belang daarin om in ‘n god te glo wat mense straf daarvoor dat hulle iemand anders se leuen glo nie.  Ek stel nie belang om in ‘n god te glo wat dit goedkeur dat ‘n man sy vrou seksueel uitbuit nie.  Ek stel nie belang in ‘n god wat die opdrag sal gee om ‘n kind te vermoor nie.

jerigoEn dit word net erger:  Die res van die Ou Testament is ‘n eindelose bloedbad.  Hoe is dit dat só baie Christene dit nie besef nie?  Miskien is dit omdat ons grootword met die sanitêre weergawe van die Bybel.  Die een sonder al die verkragting en met die minimum moorde.  Die een met die pragtige illustrasies wat ons toelaat om Ragab met haar rooi tou te onthou sonder dat ons ooit hoef te dink aan al die mense in Jerigo wat om geen rede uitgeroei moes word.

Dit was maklik, toe ek ‘n kind was, om al die vreeslike dinge in die Bybel te aanvaar.  Dit het my gepla, maar omdat dit duidelik nie die volwassenes gepla het nie, kon ek myself oortuig dat ek dit bloot nie goed genoeg verstaan nie.  Noudat ek self ‘n volwassene is kan ek nie meer die verantwoordelikheid op iemand anders plaas nie.  As die Bybel die woord van God is, is hy nie ‘n god wat ek wil dien nie.  Ek is moreel gekant teen uitbuiting, slawerny, moord en mishandeling.

Hoekom sukkel die kerk so om aan die regte kant van die geskiedenis te wees?  Hoekom is dit ‘n die sekulêre sfeer wat moes sorg dat slawerny afgeskaf word, wat vir vroueregte moet baklei, wat Apartheid moes beeindig?  Dit is omdat die kerk se morele stelsel gebaseer is op barbaarse skrifte oor mitologiese mense wat vergoed word daarvoor dat hulle vreeslike onregte aan hulle medemens doen.  Dit is omdat die kerk altyd aanneem dat hulle reeds die antwoorde het, eerder as om enigiets anders in ag te neem.  En hoekom is dít aanvaarbaar?  Want die Bybel sê sommige mense is spesiaal uitverkore, eers Abraham en toe die Jode en nou die Christene.

Hoe is dit veronderstel om ons te help om die wêreld só te verdeel?

Avatar fb
Apostaat

Published by

Apostaat

Eks-christen, nou geloofsvry. Altyd bereid om ander se standpunte in ag te neem. Ek wil graag 'n gesprek voer oor geloof, kennis en oortuiging. https://www.facebook.com/Apostaat/

2 gedagtes oor “Uitverkore”

  1. Jy maak ‘n paar skokkende aanames ten opsigte van die Bybel wat nie gegrond kan word in feite nie. Jy beweer dat Sarah eers seks gehad het met die Egiptiese koning en toe later met Abimelek, en sommer ook altwee met ‘n seksuele oordraagbare siekte aangesteek het.

    Kan jy asb jou Bybel vers verwysing vir my noem, want dit staan nie daar.

    Ek kan vir jou myne wys, eerste is dit Genisis 12:19,

    Die King James Version se, “Why saidst thou, She [is] my sister? so I might have taken her to me to wife” (12:19),

    Dit is moes duidelik dat sy glad nie seks gehad het met die Egiptiese koning nie

    Die volgende een is Genisis 20:6

    Gen 20:6 Daarop antwoord God hom in die droom: Ek weet ook dat jy dit in die onskuld van jou hart gedoen het, en Ek self het jou daarvan teruggehou om nie teen My te sondig nie. Daarom het Ek jou nie toegelaat om haar aan te raak nie.

    Abimelek van Gerar het dus glad nie aan haar geraak nie. God het sy vrou rein en veilig gehou nie net die eerste keer met die Egiptiese koning nie, maar ook die tweede keer met Abimelek.

    Daar was geen gemeenskap nie en dus geen seksuele oordraagbare siekte nie, kan jy asb jou teks wysig.

    Verder maak jy die stelling, “Sy is getroud met haar halfbroer.” Dit is korrek dat Adam en Eva se kinders met mekaar getrou het en eers tydens Moses het God ‘n wet in gebring dat dit nie aanvaarbaar is nie.

    Maar vanuit ‘n Ateistiese oogpunt wie gee jou die reg om liefde tussen halfbroers te beoordeel? Jy beweer immers dat daar ‘n oermens was wat geevolueer het en die moes met hulle broers en susters en half susters trou vir die eerste paar generasies om aan die gang te kom, anders word die gemuteerde geen weer uitgeteel.

    Die rede hoekom dit alles met Abraham gebeur het, waar sy vrou gevat is deur ‘n ander man, maar nie aangeraak was nie, was om vir Abraham te leer om God te vertrou. Abraham het nie vertrou nie en het selfs gelieg, maar ten spyte daarvan beskerm God nie net sy vrou nie, maar gee hom ook rykdom daarby.

    Die eintlike vraag is, hoekom sal ‘n koning, so bang word vir ‘n alledagse man, en hom wegjaag nie met ‘n sward nie, maar met skatte.

    Jy se dat, as die Bybel die woord van God is, jy nie Hom wil dien nie omdat jy gekant is teen uitbuiting, slawerney, moord en mishandeling. Hoe tweegesigagtig kan jy dan nou tog wees.

    As ‘n ateis glo jy seker dat ‘n vrou het die reg om te kies om ‘n aborsie te he. Maar terselfde tyd is jy besig om die moord van ‘n ongebore baba te ignoreer. Aan die kant van die Bybel beskou jy moord as verkeerd, maar aan jou eie kant is moord van ‘n baba nie ‘n probleem nie.

    Uitbuiting en slawerney. Daar is soveel kinderarbeiders wat as slawe klere en skoene in Indie en China produkte vervaardig, maar al wat jy jouself oor bekommer is wat is die goedkoopste produk in die winkel.

    Ek wonder of jy al raakgelees het in die Bybel dat enige slaaf vrygelaat MOET word na 7 jaar van arbeid.

    Jy as ateis weet nie wat moreel en immoreel is nie. Die waardes van die weste is gegrond en gebaseer op Christelike beginsels, nou kom jy meneer ateist en leen van die christelike wereldbeskouing van wat moreel en immoreel is.

    Vanuit ‘n ateistiese wereldbeskouing, hoekom is moord verkeerd? Daar is niemand wat jou sien en gaan oordeel nie, en die wet van die natuur is moes die sterkste se reg op oorlewing.

    Like

Lewer kommentaar